Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Magashule gaan nêrens, sê ondersteuners

Net ANC-lede wat strafregtelik in die hof aangekla is, moet kragtens die onlangse besluit van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van dié party opsy staan.

“Saaknommers (van klagte wat by die polisie ingedien is) tel nie. Dit is slegs mense wat strafregtelik in die hof aangekla word,” sê Theo Venter, politieke ontleder.

Ace Magashule Foto: Daily Sun

Sy reaksie volg op ’n berig Sondag in Rapport dat lede van die sogenaamde radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie in die ANC tot einde vandeesmaand klagte teen soveel as moontlik ANC-leiers by polisiekantore gaan indien om chaos te veroorsaak oor die besluit dat Ace Magashule, sekretaris-generaal, sy amp begin Mei moet neerlê.

’n Bron na aan Magashule het aan Rapport gesê dit is wat skuil agter die opdrag van Magashule Maandag aan die provinsies dat hulle lyste aan Luthuli-huis moet stuur van almal wat van korrupsie beskuldig word.

Magashule is onlangs deur die NUK gevra om terug te staan tot ná die afhandeling van die saak waarin hy in Bloemfontein teregstaan op aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery wat spruit uit die dae toe hy nog premier van die Vrystaat was.

Die lyste moes teen Donderdag om 17:00 ingestuur gewees het.

Magahule se verweer is hy het net ’n besluit van die ANC se nasionale konferensie in 2017 by Nasrec, Johannesburg, dat alle ANC-lede wat by ernstige misdaad geïmpliseer word, opsy staan, in werking gestel.

Hy sê die NUK het die 2017-besluit “gewysig”.

The Star het verlede week berig Fanie Fondse, ’n Reserwebank-aandeelhouer, het by die Sandton-polisiekantoor in Johannesburg strafregtelike klagte teen pres. Cyril Ramaphosa ingedien oor beweerde korrupsie met die toekenning van ’n kontrak aan die Shanduka Trust vir die bou van skole in die Vrystaat.

Ramaphosa het destyds in die Shanduka Trust se direksie gedien.

’n Saak van uitbuiting, geldwassery en verraad is ook teen die president ingedien. Fondse, wat in 2012 deur die regering aangestel is om ekonomiese misdade in die apartheidsera te ondersoek, beskuldig Ramaphosa volgens die berig daarvan dat hy met apartheidsleiers kop in een mus was om geld van die regering te steel.

Ramaphosa het die naweek in ’n lang verklaring onder meer gesê die Shanduka Trust (nou die Cyril Ramaphosa Trust) het nooit enige tender ontvang vir die bou van skole nie omdat hy nie in die boubedryf betrokke is nie.

Hy sê toe hy volgens die berig in 2015 die provinsiale departement “oorreed” het om die nie-bestaande kontrak toe te ken, was hy nie meer ’n direksielid nie.

Ramaphosa sê hy was net tot November 2014 betrokke by die Shanduka Trust, wat hy in 2002 gestig het en wat sedertdien groot bydraes gelewer het tot die ontwikkeling van township- en landelike skole.

Die trust het hom in 2013 tot R100 miljoen verbind vir ’n skoolontwikkelingsprojek in die Vrystaat.

Ramaphosa sê nóg hy nóg enige maatskappye waarin hy belange gehad het, het ooit enige voordeel getrek uit die bou van skole. 

Op sy beurt het City Press berig dat Magashule nie van plan is om einde vandeesmaand vrywillig uit sy pos te tree nie.

Die koerant sê dit sal vir Magashule spreekwoordelik tyd in Luthuli-huis koop omdat hy nou eers aan ’n lang interne proses onderwerp sal word voordat hy geskors kan word.

’n Bondgenoot van Magashule het aan City Press gesê “ons sal liewer twee ANC’s in Luthuli-huis hê – een gelei deur Ramaphosa en die ander deur Magashule”. Daarom sal die sekretaris-generaal nié opsy staan nie.

’n NUK-lid in die Ramaphosa-faksie het gesê dit sal chaos veroorsaak as die aanvanklike Nasrec-konferensie in werking gestel sou word. ’n Taakspan wat deur die NUK aangewys is, het onlangs die werkwyse wat gevolg moet word, verfyn.

Meer oor:  Politiek  |  Ace Magashule  |  Opsystaan  |  Anc  |  Anc-Faksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.