Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Magashule reg om hof toe te gaan
Ace Magashule Foto: Deaan Vivier

Enigiemand wat beweer dat Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, korrup is, sal daardie stelling binnekort met “bewyse en feite” in ’n hof moet staaf.

Dié dreigement het Donderdag gekom van Magashule self tydens ’n wydlopende onderhoud met die televisienuuskanaal eNCA.

In dié program is die ernstige beweringe teen hom in Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture ook prominent aan hom gestel.

Die boek bevat onthullings oor Magashule se beweerde onwettige aktiwiteite in sy tyd as Vrystaatse premier toe sy familie en vriende glo finansiële voordeel getrek het, asook Magashule se verhouding met die Guptas en tendermagnate.

Magashule het gesê hy het reeds met die regsproses begin om die jongste beweringe teen hom in ’n hof te laat toets.

“Ek is nie korrup nie.”

Volgens hom sal almal wat dit beweer, daaroor in ’n hof moet getuig.

“En hulle sal met bewyse en feite moet kom. Ek kan vir jou nou sê dat ek nog nooit iets gedoen het wat onwettig, verkeerd of oneties is nie,” het hy aan Samkele Maseko van eNCA gesê.

Ek kan vir jou nou sê dat ek nog nooit iets gedoen het wat onwettig, verkeerd of oneties is nie.
Ace Magashule

Volgens Magashule gebruik hy die “beste regslui” in die land.

Hy het bygevoeg dat hy die beweringe in Myburgh se boek gelees het.

“Dit is onsin. Ek sal in die hof bewys dat die man ’n blatante leuenaar is.”

Magashule hou vol hy was by geen korrupsie in die Vrystaat betrokke nie.

“Ek is ’n geloofwaardige leier in die ANC. Ek is die produk van die struggle in Suid-Afrika. Ek is nie vals nie. Ek sal dit in die hof bewys.”

Magashule sê daarom is hy nie bekommerd oor die beweringe teen hom in die media nie.

“Ek was een van die mees demokratiese leiers. Dit is eenvoudig leuens.”

Hy ontken ook nie dat hy die Guptas ken nie.

“Ek is in die Thabo Mbeki-era aan hulle voorgestel. Alle Suid-Afrikaners het na die Guptas se huis gegaan.”

Volgens hom sluit dit opposisieleiers in.

“Baie ANC-leiers was by hul troues. Net so was ek ook by die huise van (sakemanne soos) Patrice Motsepe en Robert Gumede. Wat is fout daarmee?

“Ons steeks niks weg nie. Ons ontken niks nie. Ek het nie ’n sent van enigiemand gekry nie.”

Hy meen egter dat ANC-lede wat bande met die Guptas gehad het, na vore moet kom en nie moet “wegkruip” nie.

“Die publiek moet my, die boekskrywer en wie ook al sy bronne is, oordeel, want van die bronne wat daar aangehaal word is vals, opgemaakte stories.”

Hy meen die beweringe is deel van ’n georkestreerde veldtog om hom en ander ANC-leiers kort voor die verkiesings te diskrediteer.

“Ons moet egter die ANC en sy leiers teen sulke aanvalle beskerm,” het Magashule gesê.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Hofsaak  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.