Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane bid in Oz wyl DA pak vat

Die DA-leier, Mmusi Maimane, het die afgelope week en die naweek ’n Christelike musiekfees en saamtrek van die internasionale charismatiese kerkgroep Planetshakers in Mel­bourne, Australië, bygewoon terwyl die DA vier munisipale stadsraad­setels in tussenverkiesings verloor het.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, kuier die afgelope week in Melbourne, Australië, saam met Neil Smith (links), direkteur internasionale aangeleenthede van Planetshakers, en Russell Evans (regs), stigter van dié charismatiese kerk. Foto: Instagram

Maimane is bevriend met dié kerk se stigter, Russell Evans, en sy direkteur vir internasionale aangeleenthede, Neil Smith. Hy het twee jaar gelede, in April 2017, ’n reusesaamtrek van Planetshakers in Melbourne toegespreek.

Evans en Smith het ook in Julie vanjaar by die Maimanes in Kaapstad gekuier en saam met hom ’n Curriebeker-wedstryd tussen die WP en Noord-Transvaal op Nuweland bygewoon.

Dieselfde aand het die kerk se hoogs suksesvolle gospelgroep ’n konsert in Goodwood gehou.

En in September kom Evans saam met Maimane se vrou, Natalie, die jaarlikse konferensie van Freedom Church in Randburg toespreek, waarvoor kaartjies reeds teen tussen R450 en R650 stuk verkoop word.

Maimane het Donderdag, terwyl die uitslae bekend geword het van die tussenverkiesings in Suid-Afrika waarin die DA pak gekry het, op sy Instagram-rekening ’n foto van homself geplaas waar hy in Melbourne saam met Evans en Smith kuier.

Dieselfde aand het die kerk se musiekgroep die derde album in ’n reeks op ’n konsert in ’n stampvol stadion in Melbourne bekend gestel.

Dié groep, wat ook as Planet­shakers bekend staan, bestaan al tien jaar en het al verskeie afdelings in die Dove-musiekpryse, die jaarlikse gospelmusiekkompetisie in die VSA, gewen.

Azola Mboniswa, woordvoerder van Maimane se kantoor, het by navraag gesê Maimane sal eers weer ná Dinsdag in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Hy wou nie bevestig dat die DA-leier in die buiteland is nie.

“Hy is met ’n kort vakansie waartydens hy ook aan persoonlike sake gaan aandag gee,” het Mboniswa gesê.

Meer oor:  Musi Maimane  |  Russell Evans  |  Da  |  Anc  |  Planetshakers  |  Munisipale Tussenverkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.