Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane: De Lille moet nou gaan

Patricia de Lille moet Woensdag haar burgemeesterskantoor ontruim, sover dit Mmusi Maimane, DA-leier, aangaan.

Intussen het Maimane Maandag op ’n nuuskonferensie by die parlement die vyf gewese DA-raadslede, wat verlede week op ’n dramatiese wyse uit die Kaapstadse metroraad en die party bedank het uit eensgesindheid met De Lille, met regstappe gedreig omdat hulle die DA van rassisme beskuldig.

Patricia de Lille. Foto: Adrian de Kock
Dan Plato. Foto: Malherbe Nienaber

Verwarring heers tans egter oor of De Lille ’n ooreenkoms sal nakom wat sy en Maimane vroeër vanjaar bereik het ingevolge waarvan sy op 31 Oktober as burgemeester sou uittree. Dít nadat twee verskillende forensiese verslae van die regsfirma Bowmans verlede week twee verskillende bevindings teenoor De Lille gemaak het. De Lille wil daardie verslae nou deur ’n hof laat hersien “om haar naam skoon te maak”.

Maimane het egter Maandag in reaksie hierop gesê dat hy reeds ’n bedankingsbrief van De Lille ontvang het wat lui dat sy op 31 Oktober sal uittree.

“Sy het bedank en moet gaan. Watter tipe mens bedank en besluit dan dat hulle nie sal bedank nie? Hoe trek jy ook ’n bedanking terug?”

Volgens Maimane het die DA reeds ’n nuwe burgemeester in Dan Plato in De Lille se plek verkies.

“Ons wil daardie burgemeester dringend en so gou as moontlik inhuldig om op Kaapstad te kan fokus.

“As De Lille Kaapstad oor haar eie persoonlike kwessies wil gyselaar hou, is dit haar eie saak. Dit het niks met die DA te doen nie.”

Maimane het ook gereageer op Shaun August en die res van die vyf gewese DA-raadslede wat bedank het se bewerings dat hulle die party weens “rassisme en viktimisering” verlaat het.

“Ek gaan hulle hof toe neem daaroor. Hulle was voorheen bevorder tot lede van die burgemeesterskomitee en ’n hoofsweep waarin hulle honderde duisende rande verdien het.

“Nou, wanneer ons ’n forensiese verslag het wat die burgemeester by bewerings betrek en sy ook gaan uittree, is daar bewerings van rassisme.

“Ook omdat hulle bewus was daarvan dat die burgemeesterskomitee en die kantoor van die hoofsweep geskommel sal word. Hulle moet egter die bewerings van rassisme kan bewys en daarom sal ons hulle in die hof daaroor sien.”

Mmusi Maimane. Foto: DAILY SUN

Volgens Maimane het die gewese raadslede ook nooit tevore daaroor gekla nie. “Hulle maak nou daardie bewerings noudat die verslag bekend geword het.”

Intussen het Maimane Maandag ook gesê dat sy prokureurs sal reageer op August en die ander vier se eise dat hy Maandag teen 18:00 die aantygings teen hulle moet terugtrek.

“My prokureurs sal hierdie mense hanteer. Ek het nie tyd daarvoor nie.”

Maimane het bygevoeg dat die groep talle bewerings sonder bewyse maak.

“Ons sal egter aanhou baklei vir die inwoners. Daar is ’n (forensiese) verslag wat probleme in die munisipaliteit uitwys. Nou wil hulle bedank. Hulle moet weghardloop vir iets,” het Maimane gesê terwyl hy die ellelang verslag van die regsfirma Bowmans rondgeswaai het.

Die groep eis ’n verskoning nadat Maimane Vrydag glo gesê het dat dié raadslede ook in die Bowmans-verslae genoem word. Die groep meen dat Maimane aanvoer dat daar “ernstige bevindings” teen hulle in die verslae is en dat hulle ondersoek moet word.

Meer oor:  Patricia De Lille  |  Dan Plato  |  Mmusi Maimane  |  Kaapstad  |  Kantore  |  Metroraad  |  Ontruim  |  Gaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.