Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane en Mashaba loop elk hul eie pad, maar staan saam

Hoewel Mmusi Maimane en Herman Mashaba sedert hul dramatiese bedanking uit die DA verlede jaar steeds ’n visie vir ’n inklusiewe Suid-Afrika deel, gaan dié twee nie saam ’n politieke party stig nie.

Mashaba, voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, wil sy eie nuwe politieke party stig om aan volgende jaar se munisipale verkiesings deel te neem.

Dít terwyl Maimane, voormalige DA-leier, hom toewy aan sy eie inisiatief om ’n nasionale beweging óf koalisie tussen politieke partye én burgerlike organisasies te bou.

Mashaba en Maimane het dít Donderdagoggend in ’n gesamentlike verklaring bekend gemaak omdat daar “baie gegis is oor hul individuele en gedeelde politieke toekomste sedert hulle in Oktober uit die DA bedank het”.

Die gissings sedertdien was nog altyd dat die twee saam ’n nuwe politieke party sou stig.

Mmusi Maimane. Foto: Elizabeth Sejake

Hulle sê verder in hul verklaring dat hulle albei uit die DA bedank het nadat hulle onafhanklik tot die slotsom gekom het dat die DA “nie langer die voertuig is wat ’n inklusiewe Suid-Afrika kan herstel of bou nie”.

Hulle sê Mashaba het op 6 Desember verlede jaar sy People’s Dialogue-projek begin, wat daarna streef om gewone Suid-Afrikaners landwyd ’n stem te gee in die vorming van ’n gedeelde toekoms vir Suid-Afrika.

Mashaba sê die gedeelde boodskap van Suid-Afrikaners uit dié projek is dat dialoog belangrik is, maar dat dit tot optrede en ’n lewensvatbare politieke alternatief moet lei.

“As sodanig het Herman besluit om ’n nuwe politieke party te stig wat in die munisipale verkiesings van 2021 kan deelneem.”

Maimane spits hom terselfdertyd toe op die vorming van sy Movement for One South Africa-inisiatief. Die doel daarvan is om ’n breë koalisie van politieke partye en burgerlike organisasies rondom ’n gedeelde stel waardes en beginsels te bou wat kan saamwerk om Suid-Afrika te herstel en sy ware potensiaal te kan verwesenlik.

“Mmusi het die afgelope drie maande die land deurkruis om met moontlike bondgenote in gesprek te tree en om gemeenskapsteun te werf. Net so het Herman die frustrasie van gewone Suid-Afrikaners uit alle oorde ervaar, wat glo dat die huidige politieke bestel hulle in die steek gelaat het.”

Die twee maak dit duidelik dat hul verskillende inisiatiewe nie mededingend is nie, maar eerder aanvullend.

Herman Mashaba. Foto: Elizabeth Sejake

“Terwyl Herman daarop fokus om ’n politieke party te bou wat aan die 2021-verkiesings kan deelneem, is Mmusi toegewy aan die doelwit om ’n nasionale beweging te bou wat magte kan verenig om ons land te herstel.”

Hulle sê gegewe hul gedeelde doelwit, ruil hulle wel idees uit en oorweeg hulle hoe hulle in die toekoms kan saamwerk.

“As deel van hierdie gesprekke is die stigting van die nuwe party ook onder bespreking, hoewel hierdie gesprekke nog in ’n baie vroeë stadium is.

“Die Movement for One South Africa sal egter aanhou met sy werk om verandering mee te bring en sien geen botsing van idees met Herman se projek nie.

“Ons wil benadruk dat ons die diepste respek vir mekaar het en sal aanhou om mekaar se onderskeie, onafhanklike pogings om werklike verandering in Suid-Afrika te bewerkstellig te ondersteun,” sê die twee.

“Uiteindelik sal die doelwit om Suid-Afrika te herstel net bereik kan word deur die kollektiewe pogings van almal wat gekant is teen korrupsie en staan vir ’n visie van ’n Suid-Afrika wat vir al sy mense werk.”

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Mmusi Maimane  |  Politieke Party
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.