Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane na OB oor Ramaphosa, Bosasa

Musi Maimane, DA-leier, gaan Dinsdag met die openbare beskermer (OB) vergader oor sy klagte oor pres. Cyril Ramaphosa.

Maimane beweer dat Ramaphosa die parlement “mislei” het oor sy en sy seun se verhouding met die dienstemaatskappy Bosasa.

Musi Maimane. Foto: Jaco Marais

Maimane het Saterdag in ’n verklaring gesê dit is nou vyf maande sedert Ramaphosa die parlement mislei het oor die konflik van belange tussen hom, sy seun, Andile, en Bosasa – “die maatskappy wat glo die afgelope 20 jaar ANC-beamptes omkoop”.

Volgens Maimane sal hy met adv. Busisiwe Mkhwebane (OB) vergader vir ’n opdatering oor sy klagte oor die konflik van belange wat tussen die Ramaphosa-familie en Bosasa bestaan.

Maimane het ook aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie na staatskaping, geskryf dat Ramaphosa gedagvaar moet word om voor die kommissie te verskyn.

Volgens hom moet Ramaphosa verantwoording doen oor die toenemende lys van transaksies, kontrakte en sake-aktiwiteite tussen sy familie en Bosasa.

Volgens Maimane weet mense:

Ramaphosa het ’n “skenking” van R500 000 van Gavin Watson, Bosasa se uitvoerende hoof, ontvang vir sy veldtog om as president van die ANC verkies te word.

Andile het ’n kontraktuele ooreenkoms met Bosasa vir “adviesdienste” gehad waarvoor hy meer as R2 miljoen in bietjie meer as ’n jaar verdien het.

Ramaphosa het aan die parlement gesê hy het die kontrak gesien en dat dit in orde was.

Andile se sakevennoot, ’n Chinese energiemaatskappy, het glo in Januarie 2018 probeer om ’n agteraf betaling van R400 miljoen te kry. Dit was toe sy pa die hoof was van ondernemings wat aan die staat behoort, en Eskom.

Daar is egter nog baie wat mense nie weet nie, en die Zondo-kommissie is die beste plek om die waarheid te soek, volgens Maimane.

Maimane het ook gevra om Ramaphosa se verklaring van belange te sien sedert hy in Februarie 2018 president geword het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.