Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane: ‘Verkoop Olly se luukse motor oor skuld’

Steek Olly Mlamleli, Bloemfontein se burgemeester, in die pad en verkoop haar luukse BMW-ampsmotor om deel van die metro se skuld van R419,9 miljoen aan Bloemwater te betaal.

So het Mmusi Maimane, leier van die DA, Woensdag luidkeels op Naval Hill in die stad gesê.

Mmusi Maimane, leier van die DA, op Naval Hill by die reservoir van R35 miljoen. Geen dienste word met die reservoir gelewer nie.Foto: Mlungisi Louw

“Kragtens die Grondwet het mense die reg op lewe en water, daar is nie ’n meer basiese reg nie. Mlamleli bedreig menselewens.”

Volgens hom het al die munisipaliteite in die provinsie ineengestort toe Mlamleli die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) was.

“Toe maak hulle haar die burgemeester van Bloemfontein!

“Steek haar in die pad,” het hy gesê.

Maimane het die reuse-reservoir wat teen R35 miljoen op Naval Hill gebou en al sedert 2015 deel van die metro se bateregister is, as die volgende Vrede-projek bestempel. Geen dienste word met die reservoir gelewer nie.

“Dit het ’n monument vir korrupsie geword, wyl onskuldige inwoners se lewe in gevaar gestel word.”

Hy het ’n hofgeding beloof as inwoners se watertoevoer op 17 Augustus tot 30% verminder word, soos Bloemwater nou dreig om te doen weens wanbetaling. Hy sê hy gaan aan die parlement terugvoering gee oor die massiewe waterkrisis in die metro.

Mmusi Maimane, DA-leier, het sy mond op Naval Hill kom uitspoel oor Bloemfontein se waterkrisis. By hom is Patricia Kopane (links), leier van die DA in die Vrystaat, en Rossouw Botes (middel), DA-raadslid van die metro belas met watersake. Foto: Mlungisi Louw

Metro se skuld aan Bloemwater

Rossouw Botes, DA-raadslid in die metro, sê Bloemwater het op 4 April verlede jaar die eerste keer sy waterlewering weens wanbetaling tot 30% verminder. Hierna was daar talle onderbrekings weens gebarste pype en reservoirs wat skoongemaak moes word.

“Die inwoners aan die suidekant van Bloemfontein het van daardie datum af tot 20 Julie vandeesmaand 41 dae nie water gehad nie. Vaardigheidstekorte en ’n gebrek aan ingenieurs vererger telkens dié probleme.”

Van 15 Maart tot 19 Julie vanjaar is daar 16 briewe tussen Bloemwater en die metro oor die waterskuld geskryf.

Botes sê op 16 Julie het Bloemwater die metro kragtens die Waterwet 30 dae skriftelik kennis gegee dat hy sy skuld van R419,9 miljoen moet betaal, anders gaan Bloemwater weer die waterlewering op 17 Augustus tot 30% verminder.

Die waterskuld bestaan uit R176 miljoen se ou, onbetaalde skuld en nuwe skuld waar die waterrekeninge van Februarie tot Junie vanjaar ook nie betaal is nie en R243,9 miljoen beloop.

Botes sê 70% van die stad se inwoners het voorafbetaalde watermeters. “Hulle het reeds vir die water betaal wat hulle dus nie kry as die lewering tot 30% verminder word nie.”

Botes sê met waterlewering van 30% kry inwoners wie se huise hoog geleë is glad nie water nie.

“Leon Basson, DA-LP en woordvoerder oor water, is reeds in gesprek met minister Lindiwe Sisulu van waterwese, sanitasie en infrastruktuur en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma van Cogta oor die skuld wat voor 17 Augustus betaalbaar is.”

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemwater  |  Mmusi Mai­Mane  |  Olly Mlamleli  |  Da  |  Munisipale Skuld  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.