Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane wil praat oor plastiekpad, nie sy huurhuis nie

Mmusi Maimane, DA-leier, sê hy het niks om weg te steek oor ’n Kaapstadse huis wat hy glo in ’n parlementêre register gelys het as sy eiendom, hoewel hy dit nie besit nie.

Bouwerk aan die sogenaamde plastiekpad in Woltemadestraat in Jeffreysbaai was Maandag in volle gang. Foto: Lulama Zenzile

Hy het Maandag in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap gepraat tydens ’n oorsigbesoek aan die Kouga-munisipaliteit wat onder DA beheer is.

Maimane het gereageer op ’n navraag nadat Rapport Sondag berig het van ’n huis in Claremont ter waarde van sowat R4 miljoen wat hy in die parlementêre register vir ledebelange as sy eie gelys het. Luidens die berig huur hy eintlik die huis teen ’n markverwante bedrag van ’n vriend en behoort die eiendom aan ’n rakmaatskappy waarvan Wessel Jacobs, ’n sakeman, die enigste direkteur en aandeelhouer is.

Maimane wou Mandag nie sê hoeveel huur hy betaal nie.

Netwerk24 het vroeër berig dat Maimane in 2018 in die register van ledebelange onder meer “W. Jacobs” as ’n bron van voordele gelys het.

“Nes enige ander burger is dit nie my verpligting om te sê hoeveel huur ek betaal nie. My fokus is weer eens – dit is ’n wettige struktuur wat reg gedoen is, ons het dit aan die parlement verklaar. Volgende gaan julle seker my bankstate vra. My fokus is op die werk wat ek aan die gemeenskap moet lewer.”

Maimane het Maandag die gewilde vakansiedorp besoek onder meer om die vordering van bouwerk aan Suid-Afrika se eerste sogenaamde plastiekpad te oorsien.

Teen einde Oktober behoort fase een van dié pad voltooi te wees, sê Horatio Hendricks, burgemeester van die Kouga-munisipaliteit.

Van links na regs stap Mmusi Maimane, DA-leier, Horatio Hendricks, burgemeester van die Kouga-munisipaliteit, en Athol Trollip, die DA se federale voorsitter, tydens ’n oorsigbesoek aan die munisipaliteit. Foto: Lulama Zenzile

Dié 1,7 km lange plastiekpad sal Koraal- en Woltemade-straat van ’n gewone teerpad na ’n omgewingsvriendelike pad omskep.

Die munisipaliteit werk tans saam met MacRebur, ’n Skotse groep, om die pad volgens ’n metode te bou waar die asfalt deur afvalstowwe of plastiek vervang word.

MacRebur vervaardig plastiekkorrels uit herwinbare plastiek wat gebruik word in die plek van die asfalt, wat tradisioneel vir die boonste laag van die padoppervlak gebruik word.

Hendricks sê die koste vir ’n gewone teerpad kan tussen R7 miljoen en R12 miljoen per kilometer wees. Die plastiekpad sal aanvanklik rofweg dieselfde kos, maar op lang termyn kan koste bespaar word omdat die instandhoudingswerk twee keer minder as dié van ’n gewone teerpad is.

“ ’n Pad het ’n leeftyd van sowat 25 jaar, so elke sewe jaar moet dit herseël word. Hierdie produk sal na verwagting twee keer so lank hou, wat jou instandhoudingswerk met die helfte sny.”

Die plastiekkorrels wat gebruik word om die boonste laag van die padoppervlak van ’n pad in Jeffreysbaai te bou. Foto: Cara-Lee Dorfling

Indien die plastiekpad-projek suksesvol is, beoog die munisipaliteit om ’n fabriek te open wat die plastiekkorrels plaaslik kan vervaardig en die uitgawes vir ’n plastiekpad verder sal snoei.

Die soort paaie is volgens Hendricks reeds in lande soos Skotland, Ierland, Indië en Australië suksesvol gebou en sê daar is bewyse dat die pad omgewingsvriendelik is en nie tot plastiekdeeltjies sal afbreek wat die aarde kan besoedel nie.

Maimane het in reaksie op die bou van die pad gesê dit is ’n innoverende manier om plastiek op lang termyn te herwin.

“Nie net is dit ’n reaksie op klimaatsverandering nie, dit is innoverend wat kostebesparing betref en dit sal boonop werk skep deur mense wat hul plastiek herwin.”

Hy het benadruk dit is ’n DA-gedrewe projek wat hy hoop oor die land heen geïmplementeer word.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Oos-Kaap  |  Jeffreysbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.