Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane wou DA hernoem

Mmusi Maimane het glo reeds ’n naam vir sy nuwe party – die Jobs and Justice Party.

Herman Mashaba en Mmusi Maimane toe hulle nog albei leiers­figure in die DA was. Foto: cornél van Heerden

Twee senior DA-bronne het die afgelope week aan Rapport bevestig as DA-leier het Maimane voorgestel dat die DA dié naam kry.

“Wat ons nou hoor, is dat hy (Maimane) en (Herman) Mashaba dit nou oorweeg om hul nuwe party die Jobs and Justice Party te noem.”

Mashaba het op 21 Oktober bekend gemaak dat hy met ingang 27 November as burgemeester van Johannesburg bedank.

Mashaba het Helen Zille se verkiesing tot voorsitter van die DA se federale raad as een van die redes vir sy bedanking aangevoer en gesê dis nie meer “die party waarvoor ek gestem het nie”.

Op die nuuskonferensie het Maimane die sakeman se hand omhoog gehou asof hy ’n kam­pioenbokser is en hom ’n “held” genoem.

'Ek is bekommerd oor die toekoms.’

Rapport het verlede week berig gegriefde DA-leiers en -lede oorweeg dit glo om ’n wegbreekparty te stig wat in 2021 aan die munisipale verkiesing kan deelneem.

Gesprekke het drie weke gelede begin toe ’n sege vir Zille al hoe waarskynliker begin lyk het.

“Die ontevredenes gaan voorlopig in die party bly en voortgaan om die agenda van verandering te dryf,” het ’n goedgeplaaste bron aan Rapport gesê.

Maimane verwys sedert sy bedanking gereeld op sosiale media na hoe werkskepping die “enigste pad na vryheid” vir Suid-Afrikaners is.

Maandag het hy op Instagram gesê: “Ons taak is om ’n ekonomie te bou wat verseker dat die jong seuns en meisies van ons land wat voorheen uitgesluit was en steeds uitgesluit word, aan die ekonomie kan deelneem.

“Ons sal net ware vryheid ken wanneer almal die geleentheid het om deel te neem, te floreer en waarde aan die volgende generasie kan oorhandig. Dit is en sal my lewensroeping bly.”

Dieselfde dag het hy op Twitter gesê sy held is “enige Suid-Afrikaner wat werk skep”.

“Ons taak is om integrasie en welvaart vir almal te bou.”

Donderdag het hy in antwoord op minister Tito Mboweni se mediumtermynbegrotingsraamwerk getwiet: “Ons moet dapper wees.

“Ons toekoms hang daarvan af of ons skuld kan hokslaan, staatsondernemings kan verkoop wat nie presteer nie en om die openbare sektor se salarisrekening te verklein.”

Die hersieningspaneel wat ’n ondersoek na die DA se mislukking in vanjaar se algemene verkiesing gelei het, het onder meer na Maimane se swak leierskap verwys en aanbeveel dat hy moet bedank.

Maimane is as “besluiteloos, inkonsekwent en bang vir botsings” beskryf.

Dit het onder meer gelei tot ’n “gebrek aan helderheid oor die party se visie en rigting, verwarring oor die party se standpunt oor kernkwessies . . . diep verdeeldheid in die nasionale koukus, ’n vertrouensbreuk tussen die leier en sommige van die party se strukture” en ’n aftakeling van dissipline.

Mashaba het Woensdag in Johannesburg aan Jacob Rooi gesê hy wil eers net ’n ruskans hê voordat hy aan enige nuwe politieke tuiste dink.

“Ek het baie opsies, ek kan na die politiek terugkeer, na my besigheid gaan, aftree of by Sassa registreer.”

Op ’n vraag of hy dalk deel van ’n nuwe party sal wees, het hy gesê: “Ek kan nie nou ’n verklaring maak nie. Een ding is seker: Ek is baie bekommerd oor die toekoms van die land.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.