Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Makhura: SANW se hulp sal gevra word indien nodig

David Makhura, premier van Gauteng, sê hy sal versterkings van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag inroep as die polisie ondersteuning met onluste in die provinsie benodig.

Intussen het die vakbond Nehawu gesê die topbestuur van die polisie moet pa staan vir die “onbevoegde” manier waarop die chaos in Gauteng Maandag hanteer is.

Makhura en Nehawu is van dié wat Dinsdag hul stemme by die koor gevoeg het wat die gewelddadige plundertogte en beskadiging van eiendom in dele van Johannesburg veroordeel het.

Taxi-bestuurders kom bymekaar in Pretoria se middestad. Hulle betoog al sedert verlede week teen buitelanders wat glo dwelms verkoop in die stad. Foto: Deaan Vivier

Meer as 90 mense is sedert die oproer Maandag in hegtenis geneem nadat onder meer winkels, hoofsaaklik van buitelanders, geplunder en afgebrand is.

In Pretoria is 100 mense dakloos gelaat nadat betogers sinkhuise in Marabastad afgebrand het.

Betogings het weer Dinsdag in die Pretoriase middestad opgevlam met die polisie wat skokgranate gegooi en rubberkoeëls afgevuur het. Die situasie word gemonitor.

In Johannesburg was die situasie ná Maandag se geweld teen 12:00 Dinsdag nog redelik rustig. Verskeie gebiede word deur die polisie dopgehou.

In Alexandra het die polisie versterkings ingestuur nadat betogers Maandagaand 47 winkels geplunder en sommige aan die brand gesteek het. Sewe mense is in verband met die geweld in Alexandra in hegtenis geneem, sê kapt. Kay Makhubele, provinsiale polisiewoordvoerder.

Makhura het Dinsdag in ’n verklaring gesê mense sal nie toegelaat word om die reg in eie hande te neem nie.

“Ek veroordeel die geweld ten sterkste, met misdadige optrede en wetteloosheid wat dele van ons provinsie tot stilstand gebring het. Daar sal vinnig en streng teen die oortreders opgetree word.”

Makhura sê hy het met lt.genl. Elias Malewa, provinsiale polisiekommissaris, vergader om stappe te bespreek wat sal sorg dat wetsgehoorsame burgers met hul daaglikse doen en late kan voortgaan.

Volgens hom sal hy sal nie huiwer om versterkings van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in te roep as die polisie ondersteuning benodig nie. Vergaderings met verskeie belanghebbendes sal intussen plaasvind om te sorg dat die situasie in Gauteng in bedwang gebring word.

Die vakbond Nehawu het Dinsdag in ’n verklaring gesê die xenofobiese aanvalle en geweld benadeel werkersklasgesinne. Skole en sakeondernemings moes noodgedwonge sluit.

“Ons dink dit is verskriklik dat die polisie toekyk terwyl misdadige elemente amok maak. Ons veroordeel die polisie se gebrek aan optrede en dat hulle nie beskerming bied nie. Die topbestuur van die polisie moet die gevolge van hul erge onbevoegdheid dra,” lui Nehawu se verklaring.

Bheki Cele, minister van polisie, sal Dinsdag met gemeenskapsleiers vergader by die polisiekantoor in Jeppe, een van die gebiede waar daar onluste uitgebreek het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.