Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema: AfriForum-klagte teen hom ‘mors van tyd’

Julius Malema, EFF-leier, sê AfriForum moet op sy plek gesit word omdat aanklagte teen hom en die EFF net hul politieke agenda bevorder.

Dié aanklagte weerhou die EFF daarvan om die werklike probleme in die land te pak. “Dit is net ’n mors van tyd.”

’n EFF-ondersteuner met ’n plakkaat Dinsdag buite die hoofkantoor van die Valke in Pretoria waar Julius Malema, EFF-leier, ’n afspraak met die Valke gehad het. Foto: Sarel van der Walt

Malema het dié uitlatings gemaak by die hoofkantoor van die Valke in Weavindpark, Pretoria, waar die Valke hom wou spreek oor ’n voorval verlede jaar in die Oos-Kaap waar hy glo ’n vuurwapen in ’n openbare plek afgevuur het.

Hy het geweier om ’n waarskuwingsverklaring af te lê.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het verlede week aangekondig hy gaan Malema en die party se woordvoerder, dr. Mbuyiseni Ndlozi, vervolg.

Dit kom ná die beweerde aanranding van ’n polisiekolonel by die begrafnisdiens van Winnie Madikizela-Mandela in April verlede jaar in Johannesburg.

EFF-ondersteuners dans Dinsdagoggend voor die hoofkantoor van die Valke in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

AfriForum het in Julie aangekondig dat hy die hof gaan nader met ’n mandamus-aansoek om die NVG te verplig om besluite te neem oor die vervolging van Malema rakende dié en twee ander hangende sake teen hom.

Van Malema se ondersteuners het Dinsdag plakkate gehad waarop hulle AfriForum waarsku “ons hou julle dop”.

Daar was ook ’n plakkaat wat gelui het “NVG, los ons opperbevelvoerder uit”.

Malema sê die kolonel op die begrafnis het probeer om hom te keer om by die graf uit te kom.

“Hy was ’n groot wit Afrikanerman wat probeer het om mý te keer om Winnie Mandela te begrawe.

“Ek moes langs die kis wees en geen wit man sou my keer om haar te begrawe nie.

“As ek daarvoor tronk toe moet gaan, laat dit so wees, maar geen wit man sou my stop nie. Nie daardie dag nie en nie op enige ander dag nie.”

Malema ontken hy het die kolonel aangerand, maar hy is nou spyt hy het nie.

“Dit (die klagte teen hom) is nog ’n voorval waarin daar ’n grap van ons regstelsel gemaak word.”

Malema sê besluite om te vervolg word dikwels gegrond op politieke besluite en ’n vrees vir “regse elemente” soos AfriForum, pleks van om die wette toe te pas.

Nadat hy met joernaliste gepraat het, het Malema sy ondersteuners gaan toespreek en AfriForum opnuut aangeval.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê AfriForum se enigste agenda hier is dat niemand verhewe bo die reg moet wees nie.

“As enigiemand die wet oortree, moet hulle aangekla word. Die klagte teen hom het niks met politiek te doen nie. Malema is in ’n benarde posisie en is in groot moeilikheid. Hy probeer nou om die skuld op ons te pak,” sê Kriel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.