Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema beweer daar is 'n sluipmoord op hom beplan

Die EFF beweer ’n sluipmoordpoging is teen Julius Malema, EFF-leier, beplan wat glo gedurende pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede uitgevoer sou word.

Dié bedreiging op sy veiligheid betrek volgens die EFF “elite lede” van die polisie wat glo in samewerking met “regse groepe” Malema se lewe sou neem “in ’n poging om die vordering ten opsigte van die diskoers rondom grondonteiening sonder vergoeding te ondermyn”.

Die EFF het Vrydag in ’n verklaring gesê die party is ingelig dat die parlementêre beskermingsdiens, ook bekend as die “wit hemde”, deur dié groepe geïnfiltreer is en dat die plan was om die staatsrede te gebruik om die sluipmoord uit te voer.

“Die hoop was dat die EFF-LP’s uit die raadsaal geskop sou word met die gebruik van die wit hemde. Die verwagte bose daad sou in die oomblik van chaos uitgevoer word. Die EFF kan dit bevestig en enige verdere navrae moet aan die polisie en die minister van polisie gerig word,” lui die verklaring.

Julius Malema omring deur gaste Donderdagaand op die staatsrede. Foto: Jaco Marais

Malema het ná die sitting verskeie onderhoude op die perseel toegestaan.

Dié inligting kom te midde van ’n video wat op sosiale media versprei is waarin gesien word hoe EFF-LP’s Donderdagaand ná Ramaphosa se staatsrede ’n lid van die parlementêre beskermingsdiens hardhandig bykom.

Die parlement het dié voorval ten sterkste veroordeel.

“Die voorsittende beamptes is verontwaardig en teleurgesteld in die skandelike optrede deur ’n LP van wie daar as ’n openbare verteenwoordiger verwag word om voorbeeldig teenoor die res van die samelewing op te tree, veral gedurende só ’n belangrike geleentheid soos die staatsrede.”

Ao. Johan Carstens, wat gesigbeserings in die voorval opgedoen het, het ’n klag van aanranding by die polisie ingedien.

Die EFF het egter in sy verklaring aangevoer dat Malema Donderdagaand “onredelik” deur die wit hemde voorgekeer is ná die verdaging van die sitting. Die EFF-LP’s was onder die indruk dat dit die oomblik vir die beweerde sluipmoordaanval was en daarom het hulle met die “nodige selfverdediging” opgetree.

“Ons moet dit op rekord stel dat niemand ingevolge die Wet op Magte, Voorregte en Immuniteite toegelaat word om LP’s op die perseel te verhinder om enige plek te gaan om hul werk te verrig nie. Dit is onwettig en diegene wat verantwoordelik is vir veiligheid op die perseel behoort terdeë bewus te wees van die bepalings.”

Die EFF het vroeër gedreig dat as Ramaphosa nie voor die einde van Januarie alles oor sy verhouding met Bosasa op ’n mediakonferensie bekend maak nie, sy party die parlement sal versoek om die staatsrede in ’n vraag-en-antwoord-sessie oor die president se verbintenis met Bosasa te verander. Die EFF het egter nie die sitting ontwrig nie en Ramaphosa se toespraak het sonder voorval plaasgevind.

Die party het aangedui hy het dié besluit geneem omdat Ramaphosa met ENCA daaroor gepraat het en ’n verklaring aan adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, gedoen het.

Reaksie

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig dat die kwessie van dreigemente maande gelede aan die polisie gerapporteer is. “Ons het 'n veiligheidsontleding gedoen en opgetree. Die polisie kan egter nie uitwei oor presies watter optrede geneem is nie,” het hy gesê.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het op sy beurt gesê as daar 'n vermoede van 'n veiligheidsdreigement is, moet dit aan die gepaste owerhede gerapporteer word. Hy het bygevoeg dat die parlement 'n veilige plek vir die publiek sowel as LP’s bly.

Meer oor:  Julius Malema  |  Staadsrede 2019  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.