Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema dreig Cyril met ‘oorlog’ oor VBS

Die EFF-leier, Julius Malema, het pres. Cyril Ramaphosa met ’n “oorlog” gedreig as Ramaphosa met “gemors” opdaag by die EFF.

“Gemors” is volgens Malema pogings van die kuratore van die VBS Bank om die geld wat Brian Shivambu, broer van die onderleier van die EFF, Floyd Shivambu, by die VBS gekry het van die EFF te verhaal.

Dit lyk asof die net al stywer rondom Malema en Floyd Shivambu span.

Malema het Donderdag in ’n woedebui op ’n nuuskonferensie laat uitglip dat die EFF gereeld “briewe” van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se spesiale ondersoekeenheid (SOE) kry, asook van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Hy het ook verduidelik dat Brian Shivambu se bevestiging dat hy R4,5 miljoen van die VBS gevat het wat hom nie toegekom het nie, bloot ’n “skikkingsooreenkoms” was.

Ons is nie Ace Maga­shule nie. As jy ’n oorlog wil hê, sal jy dit kry.

Die briewe van die Valke en die SAID daag volgens Malema gereeld op kort voordat Ramaphosa vrae in die parlement beantwoord.
“Dis misbruik van staatsmag, en  Cyril kan nie daarmee volhou nie. Wie is Cyril? As hy ’n bakleiery wil hê, sal hy dit kry,” het Malema gesê.

Die dreigement teen Ramaphosa en die onthullings oor die lastige taksman het terloops uit Malema se mond geborrel in vraetyd op sy nuuskonferensie in Johannesburg.

“Ons is nie Ace Magashule nie. As jy ’n oorlog wil hê, sal jy dit kry. Ons is nie vir Cyril bang nie. Johannesburg kom tot stilstand wanneer ons baklei. Nkandla is ver hiervandaan, maar Sandhurst is net hier anderkant. Ons sal dit na sy voorstoep toe vat, na sy huis toe waar hy woon,” het Malema gedreig.

Die Daily Maverick het verlede week onthul dat Brian Shivambu ’n skulderkenning onderteken het dat hy die VBS R4,55 miljoen skuld wat hom nie toekom nie. Die geld is deel van R16,1 miljoen wat in 2017 en selfs tot in Februarie 2018 van die VBS na die bankrekening van Shivambu se maatskappy Sgameka Projects gevloei het.

Volgens die skulderkenning is R1 miljoen daarvan op 5 Februarie 2018 oorgeplaas – ’n maand voordat die bom gebars en die VBS onder kuratorskap geplaas is.

Sgameka is gebruik om geld in kleiner bedrae te laat vloei na twee ander maatskappye: Mahuna Investments, wat Malema beheer het, en na Grand Azania van Floyd Shivambu.

Malema en Shivambu het die oorbetalings nooit ontken nie, maar volgens hulle was die betaling deur die VBS aan Brian Shivambu vergoeding vir konsultasiedienste wat hy aan die bank gelewer het.

Daar is niks daarmee verkeerd dat hy sy broer en Malema uithelp nie, het Floyd Shivambu gesê.

“Dit was ’n kompromis-ooreenkoms tussen Brian en die VBS. As jy ’n kompromis aangaan, beteken dit nie dat enige party skuldig is nie. Jy sê kom ons gaan ’n skikking aan. Jy doen dit want die geld is ’n probleem en jy wil hê dit moet weggaan sodat dinge vorentoe kan beweeg,” het hy gesê.

“Julle moenie ons betrek nie. Hoe kom ons in die prentjie?” wou hy weet.

Die AmaBhungane-ondersoekeenheid het verlede jaar onthul hoe  R5 miljoen op 8 Junie 2017 in een betaling aan Sgameka se bankrekening gemaak is in opdrag van die bank se destydse uitvoerende hoof, Tshifhiwa Matodzi.

“Dit is ’n uiters strategiese rekening,” het Matodzi in sy opdrag aan die bank se tesourier, Phophi Mukhodobwane, geskryf.

Dit was die eerste geld wat in die rekening van Sgameka inbetaal is. ’n Paar uur later is R500 000 daarvandaan na Malema se Mahuna Investments oorgeplaas, en vyf dae later is R400 000 na Floyd Shivambu se Grand Azania oorgeplaas.

AmaBhungane se ondersoek het gewys dat R9,5 miljoen uiteindelik in die agt maande van Junie 2017 tot Februarie 2018 uit die reserwes van die VBS en Vele Investments in die rekening van Sgameka inbetaal is.

Die bank se reserwes het bestaan uit korttermyndeposito’s van arm munisipaliteite in Limpopo, Noordwes en Gauteng wat onwettig by die VBS belê is.

Meer oor:  Floyd Shivambu  |  Julius Malema  |  Vbs-Bank  |  Eff  |  Diefstal  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.