Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema kon nog nie feite weerlê – joernalis ná onthullings

Julius Malema, die EFF-leier, kon nog nie een keer die feite teen hom weerlê wat sy en haar ondersoekspan-kollegas oor hom en die VBS Bank-sage blootgelê het nie.

So sê die ondersoekende joernalis Pauli van Wyk van die Daily Maverick se Scorpio-ondersoekeenheid wat vandeesweek onthul het Malema het deels baat gevind by die R16,1 miljoen wat sy party se leierskap glo van VBS Mutual Bank ontvang het.

Julius Malema praat Dinsdagmiddag met die media ná sy vergadering met die Valke in Pretoria.Foto: Sarel van der Walt

Die bevindinge dui daarop dat Malema, Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, sy broer Brian, en Malema se neef, Matsobane Phaleng, almal baat gevind het by die geld wat die EFF van VBS ontvang het.

Hulle ontken dit.

Malema het die geld glo onder meer bestee aan luukshede soos klere, hotelverblyf en die July-perdewedren.

Malema het Dinsdag, nadat hy by die Valke se hoofkantoor in Weavind Park in Pretoria was vir ’n ander saak, aan joernaliste gesê daar is niks nuuts in die nuutste beweringe teen hom nie en hy verwerp dit.

“Dit is absolute nonsens.”

Hy was in swart geklee en nie die EFF se tradisionele rooi nie.

Malema sê onder meer hy gebruik nie Mahuma Investments se geld soos beweer word nie. Hy het ook nog nooit geld van VBS Mutual Bank ontvang nie.

Hy het voorheen al ontken hy het enigiets te make gehad met die ondergang van dié bank, wat talle munisipaliteite in veral Noordwes bankrot gelaat het.

Malema sê Van Wyk het blote afleidings gemaak.

Sy is nie ’n joernalis nie, maar ’n “politikus”, het die EFF-leier gesê.

“Daar is niks om op kommentaar te lewer nie, want daar is niks nuuts in die beweringe nie.”

’n EFF-ondersteuner hou ’n plakkaat omhoog voor Julius Malema, EFF-leier, se besoek aan die Valke se hoofkantoor in Pretoria.Foto: Sarel van der Walt

Van Wyk sê egter haar ondersoek van die laaste drie maande het heelwat nuwe onthullings.

Malema het onder meer ten sterkste ontken hy het geld van VBS Mutual Bank gebruik om te betaal vir Gucci-skoene en ander luukse goed.

“Ek het al duur skoene en horlosies gedra nog voordat VBS Mutual Bank tot stand gekom het. Ek het na die EFF gekom met Louis Vuitton.

“Niemand gaan my stop om dit te dra en vir my sê wat om te dra nie.”

Tientalle Malema-ondersteuners het oorkant die pad op ’n stuk veld byeengekom om hom te ondersteun.

Die ondersteuners het deurentyd te midde van klipharde musiek gesing en getoi-toi. “Ons is hier buite om jou te beskerm, president,” het ’n man oor die luidspreker gesê.

Malema, wat sy ondersteuners later toegespreek het, sê hy het nie tyd en geld om enige regstappe te doen oor die beweringe teen hom nie.

Van Wyk sê Malema sê daar is niks nuuts in die jongste onthullings nie omdat dit sy taktiek is om ander joernaliste van sy spoor af te kry.

Intussen het John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, gesê dié party gaan Malema by die etiekkomitee van die parlement verkla.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê die jongste onthullings sal Malema beslis seermaak. “Dit lyk asof die EFF besig is om hom te posisioneer vir ’n konfrontasie met die howe.”

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n politieke en regskenner van Unisa, sê hy dink nie dat dit enige invloed op Malema se politieke steun sal hê nie. “Malema se vermoë om die regsproses te manipuleer deur sake uit te stel of om te appelleer, skep die indruk dat hy onaantasbaar is. Dit verhoog eerder sy gewildheid onder die radikales.

“Die werklike invloed is op redelike mense in die samelewing wat onder die indruk is dat ‘mnr. Teflon’ (Malema) met alles kan wegkom,” sê Labuschagne.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het by navraag gesê die Valke ondersoek nie die jongste beweringe teen Malema nie.

Van die ander bevindinge van die Scorpio-ondersoekspan van die Daily Maverick sluit in:

* Die ondersoekspan het die VBS-geldspoor ontleed en ’n oordrag van R16,1 miljoen van VBS na Brian se maatskappy, Sgameka Projects, blootgelê. Sgameka is in der waarheid ’n dopmaatskappy.

* Minstens R5,3 miljoen van die R16,1 miljoen is aan Mahuna Investments, ’n maatskappy wat aan Phaleng behoort, betaal. Dit is volgens die amptelike dokumentasie van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC).

* Malema het die Mahuna Investments-rekening vir “persoonlike omkoopgeld” en aankope gebruik. Die ondersoekspan het ’n aantal bankstate van Mahuna Investments (genoem na ’n seun van Malema) ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat Malema ’n bankkaart gebruik het wat aan die maatskappy behoort. Hy het glo onder meer sy oudste seun se skoolgeld hiermee betaal.

* Die bankkaart is glo oor die land heen gebruik by plekke waar Malema was, soos Vryburg, Mmabatho, Rustenburg, Seshego, Polokwane, Kaapstad, Bloemfontein, Oos-Londen en Durban.

* In Julie 2018 het Malema na bewering die kaart gebruik om weeldeartikels ter waarde van R27 094 by onder meer Gucci en Le Coq Sportif in Sandton City te koop.

* In dieselfde maand is die Mahuna Investments-rekening gebruik om R416 900 aan die Mekete Lodge-terrein in Polokwane te betaal, wat volgens Scorpio ’n sakeonderneming is wat met Malema, die EFF-lid Herbert Matlaila en “minstens drie” van Malema se regstreekse familielede, insluitend Phaleng, verbind word.

* Die ondersoek het minstens 35 internetbetalings van altesaam R2,07 miljoen gedurende 2017 en 2018 aan Mekete Lodge geopenbaar. Dit was Mahuna Investments se grootste uitgawe.

* Scorpio sê dat nie Malema of die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, op vrae hieroor gereageer het wat per e-pos aan hulle gestuur is nie.

Meer oor:  Pauli Van Wyk  |  Julius Malema  |  Joernalis  |  Vbs-Bank  |  Vbs-Skandaal  |  Politiek  |  Hof  |  Onthullings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.