Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema maan Cyril om te doen, nie net te droom

Pres. Cyril Ramaphosa loop die gevaar om in ’n staat van beskuldiging geplaas te word én dat ’n spontane revolusie kan uitbreek as mense se grond nie teruggee word nie.

Dít was Dinsdag Julius Malema, EFF-leier, se woorde aan Ramaphosa in die debat oor sy staatsrede in die Nasionale Vergadering (NV).

Malema het aan Ramaphosa gesê die stryd teen korrupsie gaan nie gewen word as die president by bewerings van geldwassery betrokke is nie. Ramaphosa moet met die waarheid uitkom oor wie tot sy veldtog bygedra het om in 2017 die ANC-president te word.

“Ons is nie van voorneme om jou as president te verwyder nie, want jou mense het jou demokraties verkies, maar as dit blyk jy is ’n Grondwet-oortreder gaan ons geen ander keuse hê nie as om ’n proses te begin om jou in ’n staat van beskuldiging te plaas nie.”

Julius Malema
Julius Malema

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), ondersoek tans of Ramaphosa die parlement mislei het toe hy in November verlede jaar antwoorde oor ’n skenking van die omstrede dienstemaatskappy Bosasa in die NV verskaf het. Haar kantoor het egter Maandag ontken dat sy ook skenkings van meer as R400 miljoen aan dié veldtog ondersoek, soos Sondag deur die Sunday Times berig is.

Malema waarsku ook oor ’n spontane revolusie as grond nie sonder vergoeding onteien gaan word nie. Ongelykheid en die maatskaplike probleme van die samelewing gaan nie uitgewis word as die grondkwessie nie opgelos word nie.

Hy moedig Ramaphosa aan om daadwerklik op tree, eerder as om te droom, omdat hy as staatshoof die mag het om verandering teweeg te bring.

Dit is in reaksie op Ramaphosa wat verlede Donderdag in sy staatsrede gevra het of die tyd nie aangebreek het om ’n nuwe slimstad te bou met die tegnologie van die vierde nywerheidsrevolusie nie. Hy het ook verwys na ’n toekoms met blitstreine wat verskeie stede in die land met mekaar verbind.

Malema sê mense is arm, werkloos, grondloos, word verkrag en misdaad is hoog. Hule droom nie daaroor nie, dit is hul werklikheid.

“Hou op droom. Implementeer projekte wat die mense se lewe gaan verander. Hoe kan ’n man met ’n R100 in sy sak by ’n winkel instap en sê hy droom daarvan om ’n koeldrank te koop, terwyl hy die mag het om ’n koeldrank te koop? Jy het nie die luuksheid daarvan om te droom nie. Jy is die president, jy is die implementeerder en jy het die mag om dinge te laat gebeur,” sê hy.

“Jy wil ’n blitstrein hê. Hou op droom, kondig dit aan hoe jy dit gaan doen. Jy wil ’n stad bou. Hou op droom, vertel ons van die grond waar jy die stad wil bou, hoe lank dit gaan neem, hoeveel dit gaan kos. Jy het die mag om dit te doen.”

Malema wys daarop dat Ramaphosa die mag het om korrupsie te beveg.

“Moenie bang wees vir korrupte individue nie. Jy is nou die president, moenie bekommerd wees oor of jy gaan terugkom of nie. Jy kan nou besluite neem, hou op droom, terwyl jy nou die mag het om ’n besluit te neem.”

Mmusi Maimane, DA-leier, vra op sy beurt dat Ramaphosa ’n voorbeeld moet stel en moet ophou om die OB se ondersoek na sy optrede met Bosasa te dwarsboom.

“Laat die OB haar werk doen en sodra die verslag gefinaliseer is, verskyn dan voor ’n ad hoc-komitee sodat die kwessie op ’n oop en deursigtige wyse hanteer kan word.”

Maimane wys daarop dat Suid-Afrika in twee dele verdeel is. Hy betreur die inkrimping van die ekonomie en sê statistiek wat onlangs oor ekonomiese groei bekend gemaak is, toon dat die land in “diep, diep” moeilikheid is.

“Ons lok nie meer beleggings nie, wat beteken die ekonomie kan nie groei nie, wat beteken meer en meer Suid-Afrikaners sluit by die werkloses aan. Dit is ’n krisis vir ons, maar ons kan dit omdraai as ons nou optree.”

Om aandag aan dié dringende kwessies te gee, het die land nie drome nodig nie.

“Ons het geld nodig. Ons het die regte mense nodig en, nog belangriker, ons het ’n plan nodig. Dit is nie nodig om nuwe slimstede te bou nie, maar eerder om die bestaande stede slim maak. In plaas van ’n nuwe blitstrein, maak eerder die bestaande treine reg.”

Pemmy Majodina, ANC-hoofsweep, wys weer daarop dat daar geen revolusie sonder ’n droom is nie.

Ook Jackson Mthembu, minister in die presidensie, verdedig Ramaphosa se reg om te droom. Hy sê die sewe prioriteite wat deur die president aangekondig is, gaan as ’n katalisator dien om die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan te bereik.

“Diegene wat beweer die staatsrede was net ’n droom, verstaan nie dat alle groot revolusies wêreldwyd met ’n idee begin het nie. ’n Nasie sonder ’n droom, sonder ’n visie en doelwitte is ’n nasie met geen toekoms nie. Dit is danksy die dromers wat in 1912 in Mangaung teen apartheid byeengekom en gedroom het van ’n vrye Suid-Afrika dat alle Suid-Afrikaners dit nou kan geniet,” sê Mthembu.

“Die land is gelukkig om ’n visioenêre persoon as die president te hê. Hy is ’n groot dromer en terselfdertyd iemand wat optree. Wat die president aangekondig het, is ons kollektiewe droom en sal deur besliste optrede gevolg word.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF-Plus, verwys op sy beurt na Ramaphosa se opmerking gedurende die verkiesingsveldtog dat hy wens hy kan jong wit mense aan ’n boom vasmaak om te keer dat hulle die land verlaat. “Het jy ooit gedink waarom wit mense die land verlaat? Dit is weens regstellende aksie. Daar word steeds teen jong wit mense gediskrimineer.”

Hy vra verder aan Ramaphosa waarom dit so moeilik is om plaasmoorde te veroordeel.

“Verlede jaar toe daar aanvalle op moskees in Durban en Malmesbury was, is daar dadelik opgetree, tog weier u om plaasmoorde te veroordeel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.