Die EFF-leier, Julius Malema, sal sonder ’n prokureur voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping verskyn “omdat hy niks het om weg te steek nie”.
Malema het dit Woensdag op ’n mediakonferensie in die EFF se hoofkantoor in Johannesburg gesê toe hy terugvoering oor ’n vergadering van die party se sentrale beheerstruktuur gegee het.
Sy uitlating kom nadat die Sunday Times onlangs berig het dat die kommissie glo groot banke gedagvaar het om finansiële state te bekom wat met Malema en Floyd Shivambu, EFF-onderleier, verband hou.

Julius Malema
Die kommissie het dit egter nog nie teenoor die media bevestig of ontken nie.
Malema eis dat adjunk-hoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, duidelikheid hieroor moet gee en sê
die EFF het die sekretaris van die kommissie ingelig dat hy bereid is om met die kommissie saam te werk.
“Ek het aangedui dat ek op 14 Desember sonder ’n prokureur voor die kommissie kan verskyn en hulle kan my enigiets oor my bankstate vra. Ek het niks om weg te steek nie. Die Valke en die nasionale vervolgingsgesag kan my ook uitvra,” sê Malema.
Volgens hom het die inligting in die media beland omdat ’n sekere groep die EFF in ’n swak lig wil stel.
“Ons wil óf voor die kommissie verskyn, óf Zondo moet klarigheid oor die kwessie gee. Maar ons kan nie toelaat dat die donker wolk oor ons bly hang nie.”
In die verslag, The Great Bank Heist, wat in 2018 in opdrag van die Reserwebank gepubliseer is, is bevind dat Sgameka Projects, maatskappy van Shivambu se broer, Brian, R16,1 miljoen van die VBS-bank ontvang het.
Ondersoeke deur Scorpio, die Daily Maverick se ondersoekeenheid, het onthul dat Malema en Shivambu ten minste gedeeltelik by die geld gebaat het.
In een ondersoek is bevind dat miljoene rande van die geld in ’n rekening van Mahuma Investments, wat na bewering aan Malema behoort, beland het.
Die ondersoekspan het die bankstate van dié maatskappy ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat Malema ’n bankkaart van die maatskappy gebruik. Scorpio het destyds berig dat dié bankkaart in Julie 2018 gebruik is om glo onder meer weelde-artikels van R27 094 in Sandton te koop.
Die joernaliste het deur middel van sosiale media vasgestel dat Malema gedurende die transaksie in die omgewing was.