Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema se aanhitsing ‘misdadig’ – ANC-hoofsweep

Dit is “misdadig” van Julius Malema, EFF-leier, om Suid-Afrikaners in die parlement aan te moedig om grond onwettig te beset, sê Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep.

Mthembu het Donderdag hierdie uitlating in die parlement gemaak toe hy die ANC-koukus se ontleding van die afgelope ses maande se gebeure in die parlement op ’n mediakonferensie bekend gemaak het.

Jackson MthembuFoto: Felix Dlangamandla

Dit is kort voordat LP’s van 18 Junie tot 13 Augustus op verlengde verlof gaan om onder meer kiesafdelingswerk te kan doen. Hierdie verlof is drie weke langer as gewoonlik.

Hy het die eerste helfte van 2018 in die parlement as “buitengewoon” beskryf.

“Ons het ons parlementêre jaar begin met ’n historiese politieke oorgang wat gelei het tot die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa as die vyfde demokratiese president. Ramaphosa se verkiesing het ’n nuwe dagbreek ingelui wat ’n nuwe verbintenis gebring het om Suid-Afrikaners beter te dien.”

Joernaliste wou egter by Mthembu weet wat die ANC se standpunt is oor Malema wat binne en buite die parlement landsburgers aanmoedig om grond onwettig te besit.

Volgens Mthembu moet die parlement dringend daaraan aandag skenk omdat vryheid van spraak en parlementêre privilegie nie misbruik kan word om misdaad aan te hits nie.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Dirco

Mthembu sê hy is egter bewus daarvan dat die parlement se regspan, sowel as die etiekkomitee, daaraan aandag gee.

“Hulle moet hulself afvra of die parlement as platform gebruik kan word om mense aan te hits om ’n misdaad te pleeg. Is dit dan steeds vryheid van spraak?

Mthembu sê sy mening hieroor is: “Nee”.

“Dit kan nie wees nie. Maar waar kla jy as dit in die parlement gedoen word? Dit is misdadige gedrag om die nasie aan te hits om ’n misdaad te pleeg.

“Dit is die parlementêre privilegie wat misbruik word. Persoonlik dink ek nie dat ons moet toelaat dat die parlement ontaard in ’n platform waar onwettige optrede aangehits word nie.”

Mthembu het ontken dat die ANC as meerderheidsparty in die parlement deur opposisiepartye soos die EFF gelei word met belangrike besluite soos onder meer die parlementêre proses om die wysiging van die Grondwet te ondersoek om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

Julius Malema Foto: Trevor Kunene

Volgens hom het die ANC self sedert Februarie 13 verskillende en belangrike wetsontwerpe deur die parlement laat voer. Hy meen egter dat die Grondwethersieningskomitee wat onteiening moet ondersoek, ’n historiese gebeurtenis is.

“Hierdie resolusie deur die ANC, wat op sy 54ste nasionale konferensie (in Desember in Johannesburg) ontstaan het, is ’n dapper stap om die oorspronklike sonde van die ontneming van grond en grondloosheid aan te spreek.”

Mthembu het Ramaphosa en adj.pres. David Mabuza ook geloof vir die goeie werk wat hulle tot dusver gedoen het.

“Een van die kwessies wat Suid-Afrika voorheen beduiwel het, was ons onvermoë om korrupsie aan te vat.”

Volgens hom het Ramaphosa korrupsie egter direk getakel deur eers geskikte persone in wetstoepassingseenhede aan te stel wat dit moet ondersoek, terwyl die skuldiges ook in hegtenis geneem word. Verder ruk Ramaphosa ook korrupsie-geteisterde staatsentiteite reg met nuwe direksie- en bestuurslede. “Dit is ’n stap in die regte rigting.”

Meer oor:  Julius Malema  |  Jackson Mthembu  |  Aanhitsing  |  Eff  |  Grondbesetting  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.