Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema se afjak ’n ‘opregte kompliment’

’n Aanval deur Julius Malema en die EFF is die “mees opregte vorm van ’n kompliment”, sê die FW de Klerk-stigting.

“Ons het sy soort al voorheen gesien: diegene wat kleurgekodeerde uniforms dra, wat boelie-taktiek gebruik om demokratiese prosesse te ontwrig, wat rassehaat aanjaag en hul leiers Führer of Duce of Commander-in-Chief noem.”

Dit was Vrydag die reaksie van dié stigting op Malema en sy EFF-LP’s se reeks aanvalle op die 83-jarige De Klerk in die Nasionale Vergadering.

Hulle het pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede erg ontwrig deur onder meer te eis dat De Klerk die parlement moet verlaat omdat hy glo volgens die EFF onlangs in ’n televisie-onderhoud ontken het dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was.

Dié EFF-versoek is verwerp.

Oudpres. FW de KlerkFoto: JACO MARAIS

De Klerk is soos Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe as oudpresidente saam met hul vroue amptelik na die staatsrede genooi en het in die openbare galery gesit.

Dit stigting sê ook “dit is ironies dat Julius Malema, wat die venynige aanval teen De Klerk gerig het, gedreig het om ’n ware misdaad teen die mensdom te pleeg toe hy op 7 November 2016 gesê het: ‘Ons doen nie ’n beroep vir die slagting van wit mense nie – ten minste nie nou nie' ”.

Luidens die verklaring het De Klerk al herhaaldelik die ernstige onregte wat onder apartheid gepleeg is, erken en al verskeie kere opreg om verskoning aan slagoffers daarvan gevra het.

Hy het ook sy hele presidentskap toegewy aan die afskaf van apartheid en die onderhandeling van ’n nuwe Grondwet wat die regte van alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras, sou verskans.

Die stigting vra in die verklaring die vraag of apartheid werklik ’n misdaad teen die mensdom was.

Dit lui verder dat die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in November 1966 apartheid tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar het, terwyl die konvensie oor die verdrukking en straf van die misdaad van apartheid in 1973 aanvaar is.

“Sowel die resolusie as die konvensie was politieke inisiatiewe van die (destydse) Sowjetunie, wat self gruwelike misdade gepleeg het teen die mensdom wat ingesluit het die moorde op miljoene mense.”

Die stigting sê verder 23 van die 31 ondertekenaars van die konvensie was “nie vry nie”, volgens Freedom House, ’n Amerikaanse waghondorganisasie vir vryheid en demokrasie.

“Ironies is Suid-Afrika geklassifiseer as gedeeltelik vry en het dit beter menseregte-punte as 27 van die ondertekenaars gehad.”

“Die gedagte dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was, was en bly ’n politieke propaganda-projek wat deur die Sowjet en sy ANC-SAKP-bondgenote begin is om wit Suid-Afrikaners te stigmatiseer deur hulle te vereenselwig met opregte misdade teen die mensdom wat oor die algemeen totalitêre verdrukking en die slagting van miljoene mense sou insluit.”

Volgens die FW de Klerk-stigting het 23 000 mense tussen 1960 en 1994 in Suid-Afrika se politieke geweld gesterf. Minder as 5 000 van hulle is deur die destydse veiligheidsmagte vermoor.

“Die meeste ander sterftes het in die konflik tussen die IVP en die ANC voorgekom.”

“Niks hiervan is bedoel om die ongeregtighede wat ongetwyfeld onder apartheid gepleeg is, goed te praat nie. Ons het egter ’n gebalanseerde begrip van die verlede nodig. Nie een wat gegrond is op ’n simplistiese swart/wit-, goeie/slegte-raamwerk nie, maar op ’n grondslag wat die oneindige skakerings van grys weerspieël wat die geskiedenis eintlik kenmerk.

“John Allen, ’n hegte medewerker van aartsbiskop Desmond Tutu, erken in sy boek Rabble Rouser for Peace dat ‘daar geen bewyse voorgelê is by (die destydse) Waarheid-en-versoeningskommissie wat De Klerk by geweld geïmpliseer het nie,’ ” lui die verklaring verder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.