Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema se gekarring aan wette ‘resep vir anargie’

As die konstitusionele hof Julius Malema en die EFF sy sin gee deur te karring aan twee “apartheidswette”, kan dit ’n resep vir anargie in die land wees.

So het adv. Hilton Epstein SC, vir die minister van justisie, Ronald Lamola, Dinsdag aan ’n volbank regters in dié hof in Johannesburg gesê.

Lamola staan Malema en die EFF se aansoek teen dat dele van die Wet op Oproerige Byeenkomste geskrap moet word.

Die hooggeregshof in Pretoria het verlede jaar bepaal dat ’n aspek van die wet ongrondwetlik is omdat dit vereis dat “diegene wat skuldig bevind word aan aanhitsing om ’n misdaad te pleeg, dieselfde soort straf opgelê moet word as diegene wat die misdaad gepleeg het”.

Malema en die EFF wil hê hiérdie bevinding moet deur die konstitusionele hof gehandhaaf word.

Malema se aansoek volg nadat hy ingevolge dié wet daarvan aangekla is dat hy op byeenkomste in 2014 en 2016 na bewering sy ondersteuners aangehits het om leë grond te beset.

Die konstitusionele hof is nie gelas om oor die meriete van die aanklagte teen Malema te beslis nie; net oor die grondwetlikheid van die bepaalde wet.

“Die staat sal nie sonder die wet kan reageer teen die anargistiese optrede van die EFF nie. Die openbare vrede en stabiliteit kan in die gedrang gebring word,” sê Epstein.

Die staat sal nie sonder die wet kan reageer teen die anargistiese optrede van die EFF nie. Die openbare vrede en stabiliteit kan in die gedrang gebring word.

Hy gee toe die Wet op Oproerige Byeenkomste is destyds deur die apartheidsregering deurgevoer om politieke beheer te behou en om apartheid te bevorder. Dit is egter sedertdien aangepas.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, vir Malema, het Dinsdag gesê hy voer nie aan aanhitsing om ’n wet te oortree moet in alle gevalle toelaatbaar wees nie. Alle aanhitsing moet egter nie oor dieselfde kam geskeer word nie.

“Om iemand aan te hits om vir politieke en simboliese redes grond te beset, is byvoorbeeld nie so erg as om iemand aan te hits om moord te pleeg nie,” sê hy.

Volgens Ngcukaitobi perk die wet ook vryheid van spraak in.

“Dit is skrikwekkend dat iemand tronk toe kan gaan bloot deur oor iets te praat. Die EFF se standpunt was nog altyd dat grond beset moet word, maar Malema praat (nou) nie daaroor nie, want hy is bang vir kriminalisering,” het Ngcukaitobi aangevoer.

Volgens hom moet dele van die wet geskrap word en die parlement moet dan nuwe wetgewing oor aanhitsing deurvoer.

Hy sê die Wet op Onregmatige Betreding is ook ongrondwetlik omdat dit in kontras staan met die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting (PIE).

Ingevolge laasgenoemde moet ’n wetlike proses gevolg word voordat mense wat grond onwettig beset, uitgesit kan word. Maar ingevolge die Wet op Onregmatige Betreding kan besetters steeds strafregtelik vervolg word, al word hulle ingevolge die PIE-wet toegelaat om op die grond aan te bly.

Adv. Michael Osborne, vir die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, wat ook Malema se aansoek teenstaan, meen egter die wette vul mekaar inderdaad aan.

“Daar moet ’n delikate balans gehandhaaf word tussen diegene wat eiendom besit en die armes,” sê Osborne.

Hy het genoem dat indien die EFF die saak wen, dit nie noodwendig sal beteken dat die aanklagte teen Malema sal wegval nie.

Malema se verhoor is verlede jaar hangende die saak in die konstitusionele hof uitgestel. Uitspraak in die saak is voorbehou.

Meer oor:  Julius Malema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.