Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema se stryd teen Gordhan ‘nie persoonlik’
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Die EFF se twis met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, oor die openbare beskermer (OB) se verdoemende verslag teen hom oor die “geheime spioenasie-eenheid” is nie persoonlik nie, sê Julius Malema, leier van die party.

Vir hulle gaan dit net daaroor om die Grondwet te beskerm, het hy Donderdagaand op ’n nuuskonferensie by die EFF se parlementêre kantoor gesê. Dié konferensie is gereël nadat Solly Mapaila, adjunk-hoofsekretaris van die SAKP, vroeër die dag aangedui het sy party en ander nieregeringsorganisasies, wat die Ahmed Kathrada-stigting insluit, sal Gordhan verdedig en Sondag ’n massasaamtrek hou waardeur hulle mense wil mobiliseer vir die terugvegpoging teen staatskaping.

Malema het Donderdagaand ook gesê die EFF gaan by die hofaansoek aansluit wat Gordhan vroeër teen adv. Busisiwe Mkhwebane (OB) ingedien het om haar verslag oor die sogenaamde spioenasie-eenheid te laat hersien.

“Ons doen dit omdat ons in Gordhan se hofstukke genoem word. Ons was ook die klaer in die saak tussen Gordhan en die OB. Die versoek word Dinsdag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien.”

Hy doen ’n beroep op alle EFF-lede en “beskermers van die Grondwet” om Dinsdag in groot getalle na die hooggeregshof te kom en aan die EFF se eie protesoptog deel te neem “om die OB-kantoor te beskerm”.

“Ons het Mapaila se uitnodiging vir die massasaamtrek gehoor. Ons verwelkom dit. Ons is nie bang vir hom of sy vriend, broer en kameraad Johann Rupert nie. Ons sal nie deur die Kathrada-stigting en al Pravin se vriende geïntimideer of gedreig word nie,” sê hy.

“Ons is nie Zuma nie. Hulle is erger as Zuma. Toe die OB teen Zuma bevind het, het hy nooit protesoptogte teen die OB gehou nie. Hy het hof toe gegaan. Nou wil hulle mobiliseer teen die demokrasie.”

Julius Malema sê Gordhan is nie die demokrasie nie.

Malema sê Gordhan is nie die demokrasie nie.

“Die OB-kantoor is. Die kantoor moet beskerm word – nie adv. Busisiwe Mkhwebane nie. As dinge aangaan soos wat (pres.) Cyril (Ramaphosa) dit doen deur hom by Pravin se hofaansoek te skaar, kan ons die OB-kantoor maar toemaak, want haar aanbevelings is dan nie meer bindend nie.”

Volgens Malema is daar twee OB-verslae waarin daar bevind is dat Gordhan die Grondwet geskend het. Die aanbevelings is bindend, al wil Ramaphosa dit laat hersien.

“Ons is nie hier in die parlement om vriende te maak nie, ons is hier omdat ons mense vir ons gestem het. En elke keer as ons vir Grondwetlike misdadigers gaan, sê hulle (die ANC) dit is persoonlik. Dit is nie. Ons sal Cyril dieselfde behandeling gee indien die OB ook teen hom bevind – soos ons met Zuma gedoen het,” sê hy.

“Dit is niks persoonliks nie. Jamnadas (Gordhan) en sy familie moet dit weet. Ons stel net in die Grondwet belang en dit is waarmee ons moet werk.”

Meer oor:  Julius Malema  |  Pravin Gordhan  |  Eff  |  Stryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.