Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Malema se vrou dreig ANC-LP ook met regstappe

’n ANC-LP se “vals bewering” in die debat oor die staatsrede dat Julius Malema, EFF-leier, sy vrou mishandel, het sy gesin erge skade berokken en ’n bespotting van hul kinders by hul skool gemaak.

So lui die prokureursbrief wat Woensdag namens Mantoa Matlala, Malema se vrou, aan die ANC-LP Boy Mamabolo gestuur is. Die EFF het die brief op sosiale media gedeel.

Net soos Malema wil sy R1 miljoen eis van Mamabolo tensy hy sy uitlating teen Woensdagmiddag teruggetrek het.

Die Sandtonse prokureursfirma Ian Levitt-prokureurs, wat ’n dag tevore ook namens Malema ’n prokureursbrief gestuur het aan Mamabolo, waarin hy met ’n R1 miljoen-lastereis dreig word, het ook namens haar die brief gestuur.

Mamabolo kon nie teen die publikasie van dié berig vir kommentaar bereik word nie. Hy het egter vroeër Woensdag op sy Twitter-rekening geskryf: “Ek sal nie enige stelling wat gister (Dinsdag) in die parlement gemaak is, terugtrek nie want daar is feite en bewyse vir al die kwessies, bring dit, sodat ons mekaar in die hof kan kry.”

Intussen het Meokgo Matuba, sekretaris-generaal van die ANC-vroueliga, Woensdag namens dié organisasie die “minagtende tendens” waarin manlike LP’s geslagsgeweld gebruik om “goedkoop politieke punte in die parlement aan te teken” ten sterkste verwerp.

“Hierdie optrede is die hoogste vorm van vrouehaat wat bedoel is om die lot van vroue tot ’n grap te reduseer om hul skaamtelose machismo te bevorder,” sê Matuba.

Matlala ‘sou polisie toe gaan as dit waar was’

Julius Malema. Foto: Felix Dlangamandla

Die prokureursfirma skryf in die jongste brief Mamabolo se uitlating tydens die debat dat Malema sy vrou mishandel, en sy herhaling daarvan aan ’n koerant, is lasterlik.

Indien dit enigsins waar was, sou Matlala in die lig van die klimaat van gendergeweld in die land enige mishandeling by die polisie aangemeld het, lui die brief.

“Soos u mag weet of nie, het ons kliënt jong kinders waarvan die oudste 13 is. U vals beskuldigings het nou ’n donker wolk oor die hele gesin gewerp. Hierdie kinders gaan skool toe en word weens die vals bewering teen hul ouers gespot. U vals beskuldigings het die gesin erge skade berokken.

“Ons kliënt beskou verder u vals bewerings as fisieke en emosionele mishandeling, sowel as die mishandeling van haar kinders.”

In die brief word gesê dat Mamabolo se bewering “feitelik ongegrond is”. Sy eis dat hy teen Woensdagmiddag sy uitlatings terugtrek en in die openbaar verskoning vra.

Malema het Dinsdagmiddag in die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in die nasionale vergadering ten sterkste ontken dat hy ooit sy vrou mishandel het.

’n Chaos het egter uitgebreek toe Malema bewerings herhaal het dat Ramaphosa glo sy tweede vrou, Nomazizi Mtshotshisa, mishandel het. Hy is uit die nasionale vergadering gesit toe hy op versoek weier om dié stelling terug te trek.

Dit kom nadat Mamabolo in Malema se spreekbeurt by hom wou weet of hy sy vrou mishandel.

Ramaphosa kry Donderdagmiddag die kans om daarop te reageer wanneer hy sy repliek op die debat lewer.

Vroueliga kap Mamabolo én Malema

Matuba het Woensdag ook namens die vroueliga in die verklaring gesê dat Mamabolo se “misleide aanval op die onskuldige Matlala onmenslik en barbaars is” en verwerp moet word.

Die vroueliga vra dat die ANC sterk optree teen sulke vrouehaters wat vroue ondermyn.

Oor Malema se uitlatings oor Ramaphosa het die vroueliga gesê dat die EFF-leier ’n “patriargale demagoog” is wat geslagsgeweld as sondebok gebruik wanneer hy “argumente in die ideologiese oorlogsvoering in die parlement verloor” – en dit sal nie geduld word nie.

Meer oor:  Julius Malema  |  Regsgeding  |  Gendergeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.