SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
‘Malema-vervolging kan EFF-steun vergroot’
AfriForum gaan die EFF-leier, Julius Malema, privaat vervolg oor beweerde korrupsie en bedrog.Foto: Argief

Die private vervolging van die EFF-leier, Julius Malema, kan die EFF se steunbasis vergroot.

So sê politieke ontleders ná AfriForum se aankondiging Donderdag dat adv. Gerrie Nel, hoof van sy private vervolgingseenheid, die EFF-leier privaat gaan vervolg weens beweerde bedrog en tenderkorrupsie.

Volgens AfriForum sal Malema privaat vervolg word as die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie sy vervolging van Malema herinstel nie.

Die EFF het ná die aankondiging in ’n verklaring gesê Malema se vervolging sal die party se steunbasis net laat verdubbel.

Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, meen die EFF is reg.

“Ek dink dit (die saak) sal die EFF net relevanter maak. Noudat Jacob Zuma nie meer president is nie, sukkel die EFF om te besluit watter soort opposisieparty hy moet wees en watter standpunt hy vir die verkiesing (in 2019) gaan inneem.

“Dit lyk of AfriForum Malema teiken oor sy siening oor grondonteiening sonder vergoeding. Die EFF is baie goed daarmee om die publiek se simpatie te wen en sal die swart middelklas hiermee radikaliseer.”

Theo Venter, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, meen Malema kan die saak beslis tot sy party se voordeel gebruik.

“Een groot nadeel van die huidige proses is dat dit Malema weer ’n gulde geleentheid gee om media-aandag te kry. Hy het eenvoudig die vermoë om politieke munt uit goeie én slegte nuus te slaan.”

Venter meen AfriForum loop beslis die risiko van rassepolarisasie met die vervolging, maar dat hul saak ook meriete het.

“Malema se retoriek sal verskerp, maar agter geslote deure sal hy ’n ander deuntjie sing, want AfriForum en Solidariteit het ’n goeie wengeskiedenis in ons howe en daar is beslis meriete in die saak. Gelukkig kyk die howe verby politieke retoriek en slagspreuke op straat.”

Heimlik dink ek die ANC is bly AfriForum doen die vervolging met ’n ander motief.

Venter sê daar is geen twyfel dat AfriForum ook ’n politieke motief met die vervolging het nie, maar voeg by dat die aanklagte van korrupsie teen Malema vantevore al daar was en dit maak hom kwesbaar vir vervolging, veral deur sy politieke opponente.

Venter meen ook dis goeie nuus vir die ANC dat AfriForum van plan is om Malema te vervolg.

“Ek dink beslis die regering was (en is) dalk huiwerig om Malema te vervolg omdat sy politieke profiel dit baie moeilik maak en daar baie maklik gesê kan word dat Malema net vervolg word omdat hy die ANC se politieke posisie bedreig.

“Zuma wou Malema in 2011 vervolg het, maar die NVG se swak optrede het dit bederf. Die belastinggaarder het hom wel vervolg, maar hom met sagte handskoene gepak.

“Heimlik dink ek die ANC is bly AfriForum doen die vervolging met ’n ander motief.”

Mathekga vra waarom AfriForum nie ook na Lonmin se bestuur tydens die Marikana-slagting in 2012 of na Steinhoff se uitvoerende bestuur kyk nie.

“Wat AfriForum aan die een kant doen, moet hulle aan die ander kant ook doen. Is daar enige sake waarin hulle nié swart politici vervolg nie?”

Die klagte teen Malema hou verband met destydse beweerde korrupte bedrywighede van die maatskappy On-Point Engineering in Limpopo waarin Malema se Ratanang-familietrust ’n belang gehad het.

On-Point Engineering is in 2009 aangestel om die departement van paaie en vervoer in Limpopo te help met die ontwikkeling van infrastruktuur, instandhoudingswerk en beplanning. On-Point Engineering het na bewering omkoopgeld van suksesvolle tenderaars daarvoor ontvang.

Meer oor:  Afriforum  |  Eff  |  Gerrie Nel  |  Julius Malema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.