Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Mamma, jy het my daar afgegooi!'

’n Video van ’n beangste ma wat haar tweejarige dogtertjie vanuit ’n brandende gebou in Durban gooi tot waar sy in die hande van ’n groepie vreemdelinge land, wys een van die emosionele tonele wat die afgelope week in Durban afgespeel het.

’n Skermgreep van BBC-beeldmateriaal wys hoe Melobuhle Manyoni (2) ondertoe val nadat haar ma, Naledi, haar eers twee verdiepings ver na iemand op ’n lysie op die eerste vloer gegooi het en dié haar toe in die arms van ’n groep wagtende mans laat val het.

Naledi Manyoni (26) en haar gesin woon in ’n woonstel op die 16de verdieping van ’n gebou wat winkels op straatvlak het.

Sy en die dogtertjie, Melo­buhle, was tuis toe oproeriges die gebou met sy 212 woonstelle Dinsdag aan die brand gesteek het.

Omdat die hysbakke nie gewerk het nie, het Manyoni met die kleintjie in haar arms met die trappe afgehardloop tot op die derde vloer.

Van daar het sy haar baba langs houtbalke aan die buitekant van die gebou afgegooi tot waar iemand meters ondertoe op ’n lysie op die eerste vloer haar gevang het.

Dié persoon het Melobuhle toe verder afgegooi na ’n groep van sowat sewe mans wat digby mekaar met uitgestrekte arms gestaan het om haar te vang.

Mamma, jy het my daar afgegooi.

“Nadat ek haar laat gaan het, het ek my kop geskok vasgegryp,” het Manyoni aan Rapport vertel.

Sy sê toe mense besef die gebou brand, het veral vroue en kinders geskarrel om buite te kom.

In dié stadium het rook reeds by die gebou uitgeborrel.

Die gebeure het haar dogtertjie getraumatiseer, sê Manyoni.

“Soos jy kan sien, het sy deur die lug getrek. Sy het geskree en het baie gehuil, maar ek kon haar kalmeer. Sy het aanmekaar gesê: ‘Mamma, jy het my daar afgegooi.’ ”

’n Dankbare Naledi Monyoni en haar tweejarige dogtertjie, Melobuhle.

Manyoni sê dit was vir haar belangrik om haar dogtertjie uit die situasie en veilig te kry.

Nadat Melobuhle veilig was, het die jong ma met ’n tou van stukke lap wat sekuriteitsbeamptes aan mekaar geknoop het, tot op die grond geklim.

Intussen het Manyoni se verloofde opgedaag en sy is reguit na hom en hul dogtertjie toe.

Haar lyf was dae lank seer.

“Dit is nou eers dat ek oor die voorval nadink dat ek besef die lewe is kort. Selfs al dink jy jy is in ’n veilige plek, soos jou woonstel, kan jy sterf.

“Ek was van die begin af teen die plundery en nou het dit amper my en my dogter se lewens gekos.

“My verloofde was so histeries en gefrustreerd toe hy by die gebou aankom, want daar was nie veel wat hy kon doen nie.

“Noudat ons almal veilig is, is ons weer ’n gelukkige gesin.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.