Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mandela-agterkleinkind sê OB beskerm die demokrasie
Mayibuye Mandela
Mayibuye Mandela Foto: Facebook/ Mayibuye Mandela

Een van oudpres. Nelson Mandela se agterkleinkinders, Mayibuye Mandela, het namens die organisasie Vukani-gemeenskapsontwikkeling in Kaapstad, sy teleurstelling uitgespreek oor hoe die openbare beskermer (OB) in Suid-Afrika behandel word.

In ’n nuusverklaring, wat hy Dinsdag omstreeks 21:00 aan Netwerk24 gestuur het, sê Mandela hy is teleurgesteld oor hoe die politieke partye in die parlement Busisiwe Mkhwebane behandel en haar uit die kussings probeer lig.

“As die gemeenskapsontwikkelaar in die Vukani-gemeenskap glo ek ons moet mense verdedig wat kom uit voorheen benadeelde gebiede, veral swart mense wat hard vir die regering werk om ons demokrasie te beskerm. Ons is daarom baie bekommerd oor die aanvalle op adv. Mkhwebane,” sê hy.

Mandela, voorsitter van Vukani, sê hulle respekteer die landswette en demokrasie waarvoor sy grootoupa baklei het.

“Ons as gemeenskap is trots op die werk wat adv. Mkhwebane doen, veral op die briljante werk wat sy op nasionale vlak doen.”

Mandela sê Mkhwebane is ’n beskermer van die demokrasie.

Mayibuye Mandela en Andile Mngxitama, leier van die BLF. Foto: Facebook/ Black First Land First

Dié verklaring kom nadat die spreekwoordelike strop stywer om die OB se nek trek nadat ’n groep, bestaande uit Casac, Corruption Watch, Freedom Under Law, die Helen Suzman-stigting, Right2KNow, die Ahmed Kathrada-stigting, Active Citizen’s Movement en die Women and Democracy Initiative van die Dullah Omar-instituut, Dinsdag ’n gesamentlike voorlegging by die parlement ingedien het, waarin hulle sê dat sy ongeskik vir die amp is.

Die voorlegging is ingedien by ’n sitting van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste, maar die komitee het besluit dat die kwessie na Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, terugverwys word.

Modise sal dit verwys na die reëlskomitee wat reëls en prosedures moet ontwikkel om ’n sittende OB, en hoofde van ander hoofstuk 9-instellings, te verwyder.

Art. 194 van die Grondwet skryf wel voor dat die OB op grond van wangedrag, onbekwaamheid en onbevoegdheid verwyder kan word, maar stippel nie die presiese reëls en prosedures van so ’n proses uit nie.

Mandela het in Mei opslae gemaak toe hy vergader het met die Black First Land First (BLF) nadat hy aangedui het dat hy vir die party gaan stem.

Die BLF het ’n verklaring op 14 Mei uitgereik waarin hulle Mandela as ’n “kameraad” aanvaar en sê hy sal in sy voortbouing in 2021 en 2024 ’n belangrike rol vertolk.

Die party het ’n foto van Mandela en Andile Mngxitama, leier van die BLF, op Facebook gedeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.