Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mandela skel wittes

Wit Suid-Afrikaners is “gronddiewe” en “apartheidsapologete” wat net soos “ongenooide gaste . . . weier om te loop”, het Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, Zindzi Mandela, in ’n uitbarsting op die sosialemediaplatform Twitter getier.

Zindzi Mandela (links)

Die dogter van oudpres. Nelson Mandela en Winnie Madikizela-Mandela het bygevoeg dat wit mense ’n fout maak deur vas te klou aan “fantasieë van die goeie inboorling” (good native fantasies) en dat dit tyd is dat swart Suid-Afrikaners “hul grond” terugvat.

Die 59-jarige Mandela se tirade, wat dosyne twiets beslaan, het laat Vrydagmiddag begin (Denemarke en Suid-Afrika is in dieselfde tydsone). Haar laaste twiet is kort voor middernag gestuur.

In een van hulle skryf sy: “Whilst I dine and wine here . . . wondering how the world of shivering land thieves is doing.”

Haar uitbarsting het Vrydag om 16:40 begin met die woorde: “Dear Apartheid Apologists, your time is over. You will not rule again. We do not fear you. Finally #TheLandIsOurs.”

' Ek is nie daardie staatsman nie.’

Toe Mandela se ondiplomatiese opmerkings deur ander Twitter-gebruikers gekritiseer word, het sy gesê sy is nie verantwoordbaar aan enige wit man of vrou nie: “No missus or baas here. Get over yourselves.”

In een twiet gebruik sy die woord “msunery”, ’n Zoeloe-ekwivalent vir die Afrikaanse “poephol”. Die Metro FM-omroeper DJ Fresh is onlangs oor die gebruik van dieselfde woord by die uitsaaiklagtekommissie verkla.

“Will be back for the Msunery #OnMyTsnCs. Miss all these trembling white cowards, shem. Botha, Potgieter, Thieving Rapist Descendents of Van Riebeeck, etc: how are you my babies? We shall gesels more Mr Skont and Ms Unus #OurLand.”

Mandela se opmerkings kom drie dae nadat ’n presidensiële adviespaneel oor grondhervorming sy finale verslag Dinsdag in Pretoria aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig het met aanbevelings oor grond wat volgens die kommersiële landbou “rampspoedig” kan wees vir die land.

Van Mandela se twiets.

Die twee kommersiële boere wat deel was van die paneel, Nick Serfontein en Agri SA se Dan Kriek, is albei tydens die skryf van die grondverslag geïsoleer en het die paneel se aanbevelings verwerp, berig  Rapport.

Dit was nie dadelik duidelik waarom Zindzi Mandela, wat sedert 2015 ambassadeur in Kopenhagen is, besluit het om Vrydag by die gronddebat betrokke te raak nie. Sy is deur oudpres. Jacob Zuma aangestel.

Sy het deurgaans die hutsmerk #OurLand gebruik.

Toe die Twitter-gebruiker Pierre Jacobs vra hoe sy as die dogter van die “groot staatsman” so iets kan kwytraak, het Zindzi laat weet: “Ek is nie daardie staatsman nie.” Sy is eerder haar militante ma se kind, het sy geskryf.

Zindzi het verskeie ander omstrede twiets herhaal.

In een so ’n boodskap is gedreig: “Many land thieves will have sleepless nights for days to come. Keep up your good work.”

Suid-Afrika se ambassade in Kopenhagen.

Nog een het na wit mense verwys as “1652s”. Dit het gelui: “I am not surprised by the reaction of the 1652s really but their time is coming to and end Shem and these are the last kicks of a scared and dying horse.”

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), het gesê hy kon nog nie gister met Mandela in kontak kom om te verifieer of dit wel haar Twitter-rekening is nie.

“Ons kan nie kommentaar lewer voordat ons nie self met haar gepraat het nie.”

Die EFF-leier, Julius Malema, het op Twitter gereageer deur te vra dat Mandela terugkom Suid-Afrika toe en bygevoeg: “Jy weet waarom.”

AfriForum eis in ’n verklaring dat dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Mandela “as ambassadeur afdank”.

“Met haar Twitter-boodskappe het Mandela bewys gelewer van ’n haatdraende houding jeens wit inwoners van die land en het sy in die openbaar bygedra tot die verdeeldheid van plaaslike gemeenskappe,” sê Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof vir internasionale skakeling van AfriForum.

“Haar valse bewerings en vernederende beskrywings soos ‘cowards’ en ‘land thieves’ dra by tot die bou aan ’n gevaarlike diskoers van sondebokskepping. Haar verweer dat sy geregtig is op haar persoonlike opinie, toon ’n algehele gebrek aan insig in haar verantwoordelikhede in haar pos.”

Sandra Botha, ’n voormalige DA-leier in die parlement wat tussen 2009 en Desember 2012 ambassadeur in die Tsjeggiese Republiek was, skryf op Twitter: “Sê asseblief dis nie ’n ware rekening van ’n ware Suid-Afrikaanse ambassadeur nie. Dit kan nie wees nie.”

Nog ’n oudambassadeur, Dawie Jacobs, het aan Rapport gesê die opmerkings is “verdelend en brand brûe in ’n baie sensitiewe stadium van ons geskiedenis".

"Dit sal broodnodige buitelandse vertroue groot skade berokken.”

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, sê dis verkeerd om “spanning verder aan te vuur” oor die grondvraagstuk, wat ’n “regmatige kwessie” is.

“ ’n Antagonistiese houding gaan nie help met grondhervorming nie.”

Luzuko Koti, kommunikasiedirekteur van die Nelson Mandela-stigting, wat tans in litigasie gewikkel is om die ou Suid-Afrikaanse vlag as “haatspraak” te laat verklaar, het gisteraand gesê die stigting wil graag met Mandela in gesprek tree oor haar sienings.

“Ons sal daarna kommentaar lewer.”

Adv. André Gaum, kommissaris van die Menseregtekommisie (MRK), sê as ’n klagte na die kommissie verwys word, sal die MRK dit ondersoek.

Die ANC-woordvoerder Pule Mabe en die presidensie het nie op navrae gereageer nie.

Renaldo Gouws, DA-wyksraadslid in Nelson Mandelabaai, het Mandela herinner: “Moenie vergeet wie jou salaris betaal nie.”

Darren Bergman, DA-woordvoerder oor internasionale sake, het in reaksie gesê enige gesant van Suid-Afrika moet die belange van “alle Suid-Afrikaners” verteenwoordig.

“Verantwoordelike dialoog oor die pyn wat veroorsaak is deur apartheid word aangemoedig, veral as dit daarop gerig is om oplossings te vind. Rastwiste en opsweping . . . kan lei tot groter skade aan die beeld van Suid-Afrika.”

Dirco moet die twiets ondersoek, vra hy.

Mmusi Maimane, DA-leier, sê dit voel asof die versoeningsprojek “tot stilstand gekom” het en dat dit “baie Suid-Afrikaners laat voel asof hulle geen belang meer in ’n demokratiese Suid-Afrika het nie”.

Die klimaat laat verdelende en skadelike politiek wortel skiet, namate mense terugtrek in hul rasse- en kulturele laers.

“Zindzi Mandela se opmerkings is jammer, want dit poog om die skuld vir die regering se mislukkings om die ekonomie te laat groei en werklike regstelling te doen, op spesifieke dele van die bevolking te plaas,” het Maimane aan Rapport gesê.

Twee Mandela-dogters is tans ambassadeurs. Zenani Mandela het Tony Leon in 2012 opgevolg as ambassadeur in Argentinië. Sy is daarna aangestel as hoë kommissaris in Mauritius.

Meer oor:  Zindzi Mandela  |  Denemarke  |  Rasseverhoudings  |  Twitter  |  Ambassadeur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.