’n Klag van minagting van die hof staar Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, ook in die gesig ná sy plasing van die ou landsvlag op sosiale media.
“Het ek sopas haatspraak gepleeg?” het Roets gevra by sy plasing van die ou vlag kort nadat die gelykheidshof Woensdag beslis het dat die doellose vertoon van dié vlag haatspraak is.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Elizabeth Sejake
Die Nelson Mandela-stigting het sy stem gevoeg by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) wat oorweeg om teen Roets op te tree.
Die stigting het Vrydagoggend in ’n verklaring gesê hy bring ’n dringende aansoek in die hooggeregshof om Roets van minagting van die hof aan te kla.
Die stigting sê sy plasing was onder die dekmantel van ’n akademiese debat, maar dat wetgewing nie akademiese vertoonwerk te kwader trou beskerm nie.
“Die stigting beskou die daad in kwader trou en as minagting van die hof. Dit is ook disrespekvol teenoor die adjunk-regterpresident van die hooggeregshof,” lui die verklaring.
“Die stigting het op vele geleenthede – in die openbaar en privaat – na AfriForum uitgereik om saam met hom te werk om die wonde van die verlede te genees en die land volgens ons Grondwet te bou. AfriForum het hierdie pogings verwerp.”
Lees ook: AfriForum se Roets in sop oor ou vlag