Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mandela-stigting: Vroue, jongmense goed vir kabinet

Suid-Afrikaners moet die nuwe regering aanspreeklik hou, aktiewe landsburgers wees en betekenisvol bydra tot die ontwikkeling van die land se jong demokrasie.

Dít was Donderdag die boodskap van die Nelson Mandela-stigting nadat pres. Cyril Ramaphosa sy nuwe kabinet van 28 ministers en 34 adjunkministers Woensdagaand aangekondig het.

Oudpres. Nelson Mandela. Foto: Nelson Mandela-stigting

Die stigting het die presidensie en die nasionale uitvoerende gesag verwelkom en lof gehad vir die groter getal vroue en jonger mense in leierskapsampte. Die stigting het gesê hy sien uit na die invloed wat hulle op die skryf van wette en staatsbestuur gaan hê.

“’n Groot verantwoordelikheid rus op die skouers van ons nuwe nasionale leierskap om verskeie uitdagings en voorkeursake te takel.”

Ook die F.W. de Klerk-stigting het die aankondiging van Ramaphosa se verkleinde kabinet verwelkom, maar gesê as die bykomende adjunkministers bygereken word, kom dit nie in reële terme op kostebesparing neer nie.

Die stigting het die nuwe ministers en adjunkministers sterkte en wysheid toegewens en gesê ’n goeie eerste stap sal wees om alle bestaande direkteurs-generaal krities te oorweeg omdat dít gewoonlik is waar ’n staat suksesvol is of misluk.

’n Tweede stap sal wees om die departement se doelwitte in pas te bring met die president se strewe na ’n skoon en doeltreffende regering, ekonomiese groei, werkskepping en effektiewe dienslewering.

Die vakbondfederasie Saftu het op sy beurt gesê vir solank soos wat die nuwe kabinet die huidige beleid toepas wat teen die armes en vir groot ondernemings is, sal die krisis van armoede, werkloosheid en ongelykheid voortduur en vererger.

Saftu is ook bekommerd oor die boodskap wat Ramaphosa aan die publiek stuur “dat die kantoor van die openbare beskermer (OB) nie so kritiek is soos wat die konstitusionele hof voorgestel het nie”.

Die vakbondfederasie verwag dat die president ten minste erkenning moet gee aan die OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, wat ’n negatiewe bevinding teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gemaak het. Hy moet volgens Saftu verduidelik waarom hy besluit het om nie op te tree volgens die direktiewe van die kantoor van die OB nie. Deur haar bloot te ignoreer stuur hy volgens Saftu ’n boodskap aan die land dat haar bevindings onbelangrik is en geïgnoreer moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.