Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mangaung: Ace wil Olly glo terughê

Die Mangaung-metro is “nie haastig om Olly Mlamleli, uitgestemde uitvoerende burgemeester, te vervang nie” en daarby wil Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, haar glo terug in haar pos hê.

Sy is reeds in Augustus uit haar pos geskop toe ’n wantrouemosie teen haar geslaag het. Sedertdien is sy boonop in hegtenis geneem en voor die hof gedaag as beskuldigde nr. 12 in die Vrystaatse asbesdak-saak waarby bedrog van R255 miljoen glo betrokke is.

Magashule, die voormalige Vrystaatse premier, het glo onlangs op ’n vergadering van Vrystaatse LUR’e aan Paseka Nompondo, sekretaris van die ANC in die provinsie, gesê hy moet verseker dat “kameraad Olly in haar posisie as uitvoerende burgemeester herstel word,” word van ’n betroubare bron verneem.

Dié versoek het vir sommige vreemd opgeval omdat dit gekom het nadat die Valke vir Mlamleli in hegtenis geneem het en sy op borgtog van R100 000 vrygelaat is.

Mlamleli is in dié stadium nog ’n gewone ANC-raadslid in die metroraad, hangende die hofbeslissing.

Die vermoede is dus dat dit so sal bly totdat die saak afgehandel is. Volgens wet mag iemand wat aan ’n strafregtelike oortreding skuldig bevind is, nie in ’n munisipale raad dien nie.

Lebohang Masoetsa, waarnemende uitvoerende burgemeester van Mangaung, wie se naam genoem word as moontlike kandidaat vir die pos as burgemeester. Foto: Argiewe
Mmuso Tsoametsi, ’n adjunk-direkteur-generaal in die Vrystaatse landboudepartement, word ook as moontlike kandidaat genoem. Foto: Argiewe
Stan Molosioa, ’n sakeman van Bloemfontein, word ook as ’n moontlike kandidaat beskou. Foto: Argiewe
Mapaseka Nkoane, ANC-raadslid en moontlike kandidaat as uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro. Foto: Argiewe
Lulama Titi-Odile, tans ’n burgemeesterskomiteelid van die Mangaung-metro en ook ’n moontlike kandidaat vir die pos as uitvoerende burgemeester. Foto: Argiewe
Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Argief

Mlamleli is op 7 Augustus vanjaar uit haar pos as uitvoerende burgemeester gestem nadat ’n mosie van wantroue wat die VF Plus teen haar ingedien het, geslaag het. Mxolisi Siyonzana, speaker van die raad, het toegelaat dat die stemming per geheime stembrief geskied en van die ANC-raadslede het ten gunste van die mosie gestem.

Siyonzana het by navraag gesê: “Ons is nie haastig om ’n uitvoerende burgemeester aan te stel nie. Die laaste besluit van die Vrystaatse provinsiale uitvoerende komitee (PUK) was nog dat Mlamleli in haar pos herstel moet word. Daar was nog geen ander besluit ná hierdie een nie.”

Lees ook: Olly moet in amp herstel word, besluit ANC in VS

Siyonzana sê intussen sal Lebohang Masoetsa waarneem as uitvoerende burgemeester.

Intussen word daar wel ander name uit die twee ANC-faksies in die metro rondgegooi as moontlike kandidate vir die pos as uitvoerende burgemeester.

Hieronder is Masoetsa se naam, asook dié van Mmuso Tsoametsi, ’n adjunk-direkteur-generaal van die Vrystaatse departement van landbou en ’n voormalige ANC-raadslid in Mangaung, Stan Molosioa, ’n sakeman, Lulama Titi-Odile, tans ’n burgemeesterskomiteelid van die Mangaung-metro, en Mapaseka Nkoane, ’n huidige ANC-raadslid.

• Nompondo het nie sy telefoon beantwoord toe hy gebel is om te hoor of Magashule hom inderdaad opdrag gegee het om te verseker dat Mlamleli in haar pos as burgemeester herstel word nie.

• Thabo Meeko, woordvoerder van die ANC in die Vrystaat, het ook nie sy telefoon beantwoord om te hoor of die PUK se besluit in Augustus, dat Mlamleli in die pos as burgemeester herstel moet word, nog staan nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Olly Mlamleli
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.