Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mangaung keur R23,7 m. goed vir onvermydelike uitgawes

Die ANC-beheerde Mangaung-metroraad het Vrydag op ’n spesiale raadsvergadering R23 787 500 vir onvermydelike en onvoorsiene uitgawes goedgekeur vir die uitsuig van VIP-toilette (geventileerde puttoilette) in Botshabelo en Thaba Nchu.

Dié toilette het ’n jaar gelede oorgeloop toe dit te veel gereën het.

Baba Sebolao (EFF)Foto: Netwerk24

Opposisiepartye soos die DA, EFF, VF Plus en Cope was nie gelukkig met die besluit nie.

Dit was net die IAC wat Vrydag, ’n jaar later, saam met die ANC vir die goedkeuring van die R23,7 miljoen gestem het.

Mxolisi Siyonzana, speaker (ANC), sê oor die skerp vrae oor waarom die bedrag nou eers ’n jaar later na die raad vir goedkeuring gebring word, dat die item twee keer vantevore by die raad ingedien was en toe elke keer onttrek is. Dit was omdat raadslede eers meer inligting wou hê, sê hy.

“Raadslede wou ook hê dat die saak na die risikokomitee moes gaan, wat gebeur het en nou is almal gelukkig,” sê Siyonzana.

Hy sê die onvermydelike en onvoorsiene uitgawes is aangegaan omdat dit in daardie stadium geweldig baie gereën het wat daartoe gelei het dat die puttoilette se

Mxolisi Siyonzana (ANC) Foto: Netwerk24

onverwerkte rioolvuil oorgeloop het en op erwe en in strate uitgeloop het.

“Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, het gevoel dat die mense nie onnodig moes ly nie. Vier maatskappye is toe aangestel om die toilette te gaan uitsuig.”

David Masoeu, koukusvoorsitter van die DA wat oor die item in die raad gepraat het, het ná die vergadering gesê “dat die ANC en AIC met hul meerderheidstem gesorg het dat korrupsie Vrydag goedgekeur is”.

Hy sê die munisipale finansiële bestuurswet is baie duidelik as daar ’n onvermydelike en onvoorsiene uitgawe is waarvoor nie begroot is nie. Volgens afdeling 29 van die wet moet dit binne 60 dae na die raad in ’n aanvullende begroting gebring word. Indien dit nie gedoen word nie, word dit as ongemagtigde uitgawes beskou waarvoor munisipale ampsdraers (in dié geval die burgemeester) persoonlik aanspreeklik gehou kan word.

“Pleks daarvan om dit toe volgens art. 32 van die wet na die raad te bring as ongemagtigde uitgawes wat aangegaan is en waarvoor persoonlike aanspreeklikheid geld, is dit steeds volgens art. 29 van die wet na die raad gebring.”

David Masoeu (DA)

Masoeu glo dit is suiwer korrupsie. Hy sê boonop het die dokumente voor die raad nie gesê in watter maand en datum in 2017 die vier kontrakteurs wat genoem word, betaal is nie.

“Ons weet nie of dié uitgawes werklik aangegaan is en presies wanneer dit aangegaan is nie. Die feit dat die punt ook op ’n spesiale raadsvergadering – die laaste een van die jaar – bespreek en oor gestem moes word, laat nog meer vrae.”

Baba Sebolao, raadslid van die EFF, sê daar was reeds geld in die ingenieursdepartement vir sulke onvoorsiene omstandighede begroot.

“Die EFF kan nie vir die item stem waar ’n enorme bedrag van R23,7 miljoen gebruik is sonder om die raad hierin te ken en die ANC-burgemeester oor die besteding daarvan besluit het nie. Nou ’n jaar later wil hulle die besteding laat goedkeur?”

Sebolao sê drie van die vier maatskappye wat aangestel is, het elkeen in die omgewing van R7 miljoen gekry. Die maatskappye wat aangestel is, is ANC-vriende se maatskappye.

Hy sê die EFF wil eers sien of die toilette werklik leeggesuig was, hoeveel dit was en hoe lank dit geneem het. Dit is niks anders as korrupsie nie, sê Sebolao.

  • Op dié vergadering is Sabata Mofokeng ook vir ’n tydperk van drie maande aangestel as die waarnemende finansiële hoof van die Mangaung-metro.
Meer oor:  Mxolisi Siyonzana  |  Botshabelo  |  Thaba Nchu  |  Anc  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.