Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mangaung dalk eerste metro in SA wat in duie stort – DA

Die Mangaung-metro in Bloemfontein kan dalk die eerste metro landwyd wees wat in duie stort as iets nie vinnig gedoen word nie.

So het Patricia Kopane, Vrystaatse DA-leier, Donderdag op ’n mediakonferensie in Bloemfontein gewaarsku nadat die internasionale gradeerder Moody’s Investors Service dié munisipaliteit vandeesweek met drie graderings na ’n B3-gradering afgegradeer het.

Patricia Kopane

“Inwoners ly weens die ernstige wanadministrasie en swak bestuur van Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, se huidige ANC-administrasie sedert die munisipale verkiesing in 2016,” sê sy.

Kopane sê die kenmerk van die administrasie is ’n koppige onwilligheid om die mees basiese beginsels na te kom om goeie, skoon en verantwoordbare regering daar te stel.

“Ondanks die voortdurende waarskuwings dat die nodige stelsels vir inkomste-invordering ingestel moet word, staan die koers waarop munisipale skuld ingevorder word op 60% terwyl daar vir ’n koers van 90% begroot is.”

Kopane sê in die laaste twee boekjare het die munisipaliteit R61 miljoen aan ’n maatskappy oorbetaal wat daarin misluk om hom te help om sy inkomste-invordering te verbeter.

“Regeringsdepartemente en ander staatsinstellings is van die grootste skuldenaars aan die metro, soos die departement van openbare werke in die Vrystaat wat verlede maand op ’n antwoord van ’n DA-vraag in die Vrystaatse wetgewer erken het dat hy die metro R325 449 531,57 vir dienstegeld en erfbelasting skuld.”

Kopane sê ondanks die metro se swak geldsake het Mlamleli R1,7 miljoen as donasie aan die Miss Glamorous SA Pty-maatskappy geskenk. Dit is duidelik dat die burgemeester se voorkeure nie in pas is met die behoeftes van die mense van Mangaung nie. Die geld kon vir dienslewering gebruik geword het.

Kopane sê daar is 400 mense wat in die kantoor van die burgemeester by Mangaung werksaam is en duidelike posbeskrywings bestaan nie. Dit wek die indruk van kaderontplooiing ten koste van dienslewering.

Sy sê daar is boonop ’n onophoudelike rioolvuilvermorsing orals in Mangaung wat nie die aandag kry wat dit behoort te kry nie.

Kopane sê voeg daarby die houding van die topbestuur dat dit onmoontlik is dat ’n groot munisipaliteit soos die metro se geld ooit gaan opraak en daar is ’n wenresep vir chaos.

“Die houding kan gesien word in die manier waarop begrotings en projekte gehanteer word.”

Kopane sê dit is nie duidelik of die burgemeester net nie in staat is om haar take uit te voer nie en of sy maar net besig is om die ANC se koffers te vul.

Sy sê Mlamleli het sedert sy drie jaar gelede burgemeester geword het ’n houding dat sy onaantasbaar is en dat sy onaantasbaar sal bly.

“Omdat Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier en nou sekretaris-generaal van die ANC, haar aangestel het, verras die houding niemand nie.”

Die gevolg is dat die metro R874 miljoen in die afgelope boekjaar bestee het sonder dat dit in die begroting goedgekeur is.

R127 miljoen is ook in die afgelope boekjaar bestee sonder dat behoorlike voorkeur-aankopebeleid gevolg is sodat niemand kan vasstel of werklike waarde vir geld gekry is nie.

R26 miljoen is verder vermors deurdat dit op onnodige uitgawes bestee is.

Kopane sê water, die mees basiese noodsaaklikheid, word op so ’n manier voorsien dat die inwoners by die dag net al hoe bekommerder raak dat hulle dae lank sonder water gaan sit of minstens een keer per maand nie water gaan hê nie.

In die afgelope 15 maande is daar inwoners in Bloemfontein wat 41 dae sonder water was.

Meer oor:  Patricia Kopane  |  Afgradering  |  Mangaung-Metro  |  Moody's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.