Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mangaung-metro ‘stort totaal in duie’ - ontleder

Nét die murasie van ’n eens trotse Mangaung-metroraad het oorgebly. Die raad is ook nou daar waar hy homself nie meer kan bestuur nie. Dit is die eerste metro in die land wat algeheel in duie gestort het.

Dr. Ina Gouws. Foto: Facebook

So sê prof. André Duvenhage, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, wat 17 jaar in Bloemfontein gewoon het. Hy is geskok oor die verval van die eens trotse instelling wat onder die heel bestes in die land gereken is.

Hy sê die algehele herstel van ’n stelsel met waardes en strukture en mense wat die werk kan doen, is nou nodig.

“Wat van Mangaung oorgebly het, is ’n murasie van ’n plek wat eens so goed bestuur is dat Bloemfontein een van die netjiesste stede in die land was.”

Duvenhage sê verder hy meen die hele plaaslike regeringstelsel in die Vrystaat het verval.

“Skuldeisers se prokureurs sluit gereeld Mangaung se Nedbank-rekening om hul hande eerste op geld te kan lê wanneer dit inkom. Daar was ’n onvermoë by die munisipaliteit om die finansiële plan en omdraai-strategie in werking te stel.”

Hy sê die metro sal onder art. 139-administrasie geplaas moet word.

“Die metro kan nie meer basiese dienste lewer nie, rommel lê die strate vol en die dieretuin staan gesluit. Die metro kan ook nie vir krag en water betaal nie. Daar het ook geen enkele skoon oudit uit die Vrystaat gekom nie.”

Duvenhage sê die provinsie is ook nie daartoe in staat om die hele ding te hanteer nie. “By munisipaliteite waar die art. 139-ingrypings in werking gestel is, was dit onsuksesvol.”

Om nog ’n ANC-kader as administrateur te ontplooi, gaan nie die oplossing bied nie.

Daar is nou nie meer ’n antwoord nie.

“Om nog ’n ANC-kader as administrateur te ontplooi, gaan nie die oplossing bied nie. Dit is ’n onherstelbare proses op pad na selfvernieting, tensy ’n drastiese ingryping kom. Dit lyk nie asof die ANC die politieke wil of vaardigheid hiervoor het nie.”

Dr. Ina Gouws, senior lektor in die departement politieke studies en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê politiek en faksiegevegte moet uit plaaslike regerings gehaal word en die fokus moet op dienslewering wees.

Sy sê drie Vrystaatse munisipaliteite, Masilonyana (Brandfort, Winburg, Theunissen en Verkeerdevlei), Maluti-a-Phofung (Harrismith, Kestell en Qwaqwa) en Mafube (Frankfort, Villiers, Cornelia en Tweeling), was swakker daaraan toe nadat hulle vir ’n lang tydperk onder administrasie geplaas is, soos wat onlangs in die wetgewer gesê is.

Boonop het ’n chaos ontstaan nadat die Metsimaholo-munisipaliteit (Sasolburg) se stadsraad ontbind is.

Sy sê sy twyfel nie daaroor dat die Mangaung-metro (Bloemfontein, Botshabelo, Thaba Nchu, Dewetsdorp, Vanstadensrus en Wepener) onder administrasie geplaas moet word nie.

Prof. André Duvenhage. Foto: Argief

“Uit ’n verslag van die ouditeur-generaal (OG) blyk dit dat dienslewering verval het.”

Sy sê dit hang natuurlik alles af van wat ’n mens met die administrasie beoog.

“Die oogmerk behoort te wees om die fisieke dienslewering te herstel sodat alles kan werk. As dit nie gebeur nie, is die doel van die oefening daarmee heen, soos in die ander Vrystaatse munisipaliteite wat onder administrasie was en steeds is.

“Die stelsel het nie gewerk nie.”

Gouws sê dit gaan hier oor die skoonmaak van ’n munisipaliteit van grondvlak af tot bo en om die beste dienste te kan lewer sonder om enige politieke oorwegings in ag te neem.

“Vir goeie regering moet beter stelsels in plek geplaas word.

“Dit blyk nie die geval te wees met dit wat nou in die Vrystaat gebeur nie. In dié stadium lyk dit nie asof die ANC-administrasie bevoeg is om die prosesse te hanteer nie.

“Daar is nie ’n politieke wil nie en in die meeste munisipaliteite heers groot verdeeldheid in die ANC wat in faksiegevegte betrokke is, maar ook gevegte onder en vanuit die opposisie-geledere.”

Dit veroorsaak ’n skaakmat-situasie waarin die beste besluite nie vir die inwoners geneem kan word nie.

Sy sê plaaslike regering in die Vrystaat het ’n heel nuwe besem nodig en politieke kwessies behoort nie by goeie regering in te meng nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.