Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mantashe spog met ’n mineraal wat nie bestaan

Haastige Google-navorsing deur ’n toespraakskrywer in Pretoria, plus nog ’n kortpad of twee, het meegebring dat Gwede Manta­she, minister van minerale bronne, Australiese mynboubeleggers Woensdag in Perth probeer lok het met “hazenile”, ’n “wonder-mineraal” vir batterytegnologie, wat glad nie bestaan nie.

Gwede Mantashe, Bongani Nqwababa en Stephen Cornell van Sasol by ’n inhuldiging van ’n Sasol-steenkoolmyn in Julie 2018. Foto: Gallo Images

Mantashe was ’n spreker by die Africa Down Under-mynboukonferensie, waar die premier van Wes-Australië, verskeie ministers en beleggers in die gehoor van 400 was.

Mantashe het gefokus op onedele metale soos sink, koper en nikkel waarvoor ’n nywerheidsvraag bestaan en wat die plek kan inneem van dalende goudproduksie in Suid-Afrika.

“Die ontdekking van battery-minerale soos litium, grafiet, kobalt en hazenile bied groeigeleenthede in die Suid-Afrikaanse mynbedryf. Hazenile kom wydverspreid voor in die gebied tussen die Kript- en Troonkamer-grot van die Kangogrotte in die Wes-Kaap. Dis ’n mineraal-element wat deurslaggewend gaan wees in die vervaardiging van batterystoor-tegnologie,” het Mantashe gesê.

Maar Mantashe, ’n oudmyner, is deur ’n Aprilgek-grap gevang.

Die “ontdekking” van hazenile deur die fiktiewe Instituut van Energienavorsing in Kaapstad is op 1 April aangekondig deur Smart Energy International, ’n Britse energie-nuusblad.

‘Die toespraakskrywer het twee hekkies ontduik.'

Ene Jan van der Merwe, navorsingshoof van die instituut, het gesê hazenile gaan die wêreld van energie verander.

Die kennisgewing dat dit ’n Aprilgek-grap was, is deur Mantashe se navorser misgekyk.

Rapport kon vasstel dat sy toespraakskrywer sy pennevrug Dinsdag regstreeks van Pretoria aan Mantashe se geselskap gestuur het terwyl hy na Perth onderweg was. “Normaalweg word sy toesprake eers na die departement se kommunikasiehoof in Pretoria gestuur en deurgegaan. As sy daarmee tevrede is, word dit aan die hoof van die ministerie gestuur wat dié week in Kaapstad was. Daar word dit weer nagegaan voordat die toespraak aan die minister gegee word.

“Die toespraakskrywer het dié twee hekkies ontduik en die toespraak regstreeks aan hom gestuur. Dis hoe dié fout ingesluip het,” het ’n verleë bron gesê.

Volgens Ayanda Shezi, kommunikasiehoof, is die toespraak deur die departement se ekonomie-afdeling geskryf.

Roger Baxter, uitvoerende hoof van die Mineraleraad van Suid-Afrika, wat in die gehoor was, sê hy het nie die gedeelte oor hazenile gehoor nie. “Die klank in die saal was nie baie goed nie.”

Paul Miller, besturende direkteur van die beleggingsfonds CCP 12J, sê dis verstommend dat Mantashe so ’n fout kon maak ondanks die navorsingsbronne wat tot sy beskikking is. Miller, wat jare by Nedbank as mynbou-ontleder gewerk het en uitvoerende hoof was van ’n steenkoolmaatskappy, is ook ontevrede omdat Mantashe in sy toespraak statistieke herhaal het dat mineraalbronne in Suid-Afrika sowat $2 500 miljard werd is.

“Dis ’n stokou syfer wat in 2010 deur ’n Amerikaanse bank, Citibank, bereken is op grond van die land se platinumreserwes. Dis reserwes wat nie gemyn kan word nie omdat die tegnologie daarvoor nie bestaan nie. Die land het groot mineraalbronne, maar verouderde statistieke is ’n verleentheid,” sê hy.

Mantashe het ook aangekondig dat hy die Mpumalanga-streekkantoor van die departement van minerale bronne heropen het, wat in 2018 gesluit is weens korrupsie en agterstande met die verwerking van lisensieaansoeke. Ook die streekkantore in Noordwes en Limpopo funksioneer weer.

“Ons het sowat 75% van die agterstande met verwerking van aansoeke weggewerk. Teen einde vanjaar sal al die agterstande uitgewis wees,” het Mantashe gesê.

Errol Smart, besturende direkteur van Orion Minerals, het aan konferensiegangers gesê Manta­she het toestande vir mynboubeleggers aansienlik help verbeter en dat dit weer moontlik is om mynbouregte binne ’n redelike tydraamwerk te bekom, berig The Australian. “Daar is meer Australiese junior mynbouers vandag as drie jaar gelede want hulle sien dat Suid-Afrika, soos die minister sê, weer oop is vir besigheid,” het Smart gesê.

Maar John Welborn van Resolute Mining, wat onlangs die Mako-goudmyn in Senegal vir $274 miljoen gekoop het, het volgens The Australian gesê dit bly moeilik om beleggers te oortuig om projekte in Suid-Afrika te steun en dat as Mako in Suid-Afrika was, hulle nie daarin sou belê het nie. Hy het vakbonde en swart ekonomiese bemagtiging as twee kritieke faktore uitgelig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.