Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Manteldraaier’ Daniels help nou met Baai se begroting

Mongameli Bobani, burgemeester van Nelson Mandelabaai, gaan met ’n strategiese skuif verseker dat die raad se 2019-’20 begroting Vrydag danksy die stad se selferkende manteldraaier, Marlon Daniels, die groen lig kry in die raad.

Marlon Daniels van die Patriotic Alliance (regs), sê hy het “in die kooi gespring” saam met burgemeester Mongameli Bobani se koalisieregering. Foto: Lulama Zenzile

Die raad het al vier keer probeer en misluk om die begroting goedgekeur te kry omdat politici van opposisiepartye (ook Daniels) daarteen gekant was.

Toe die begroting van Bobani en sy koalisieregering Woensdag weer bloedneus kry, is Daniels as burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en landbou aangestel.

Voor Daniels se aanstelling het die opposisie en die koalisieregering elkeen 60 stemme gehad.

Die raad het 61 stemme nodig om die begroting goedgekeur te kry.

Ná sy aanstelling in die nuwe amp is Daniels die regerende koalisie se 61ste stem.

Sy aanstelling het die oë laat rek, veral omdat hy op Woensdag se raadsvergadering uitgevaar het teen mense wat hom en sy familie met die dood gedreig het sodat hy ten gunste van die begroting moet stem.

Oor sy aanstelling sê Daniels gesprekke oor die pos waarin hy aangestel is, het al in Desember verlede jaar begin.

Hy het lank daaroor gedink voordat hy besluit het om sy trots opsy te skuif, en by die koalisieregering aan te sluit.

Elke party wat hom by die koalisieregering aansluit, het steeds sy onafhanklikheid. Daarom sal ek voortgaan om te praat oor dinge wat na my mening verkeerd is.
Daniels

Daniels meen sy aansluiting by die koalisieregering beteken nie dat hy hom vereenselwig met die verkeerde dinge wat ander doen nie.

“Elke party wat hom by die koalisieregering aansluit, het steeds sy onafhanklikheid. Daarom sal ek voortgaan om te praat oor dinge wat na my mening verkeerd is.”

Hy erken hy is aangestel in ruil vir sy stem vir die begroting, maar meen dit is ’n beter opsie as dat die metro onder administrasie geplaas word.

Bobani sê hy is verlig dat die begroting Vrydag goedgekeur gaan word en hy is tevrede dat die PA ingesluit is by die koalisie.

Wanneer die begroting goedgekeur word, sal inwoners wat reeds die gordels stywer begin intrek het, opgesaal word met ’n nog swaarder finansiële las.

Belastingbetalers gaan baat vind by ’n skrale 9% van die metro se R12,6 miljard kapitaal- en bedryfsbegroting, omdat 91% aan die armer wyke in die metro toegeken word. Belastingbetalers se eiendomsbelasting is ook met 5% verhoog.

Ander verhogings wat inwoners te wagte is, is water, sanitasie en vullisverwydering (7,5%) asook elektrisiteit 13,04% (afhangend van Nersa se goedkeuring).

Die DA is gekant teen die begroting weens die enorme tariefverhogings, omdat die begroting volgens hulle nie genoeg voorsiening maak vir gemeenskap- en maatskaplike infrastruktuur nie, en omdat hulle nie die huidige voorspellings vir kapitaalbesteding (gegrond op die huidige bestedingsprestasies) glo nie.

Ander redes is dat die 3% wat begroot is vir die instandhouding van infrastruktuur ver onder die voorgestelde 8% is, en omdat die metro se geïntegreerde ontwikkelingsplan volgens die DA nie omvattend en onweerlegbaar is nie.

’n Laerinkomste-huishouding gaan ná die verhogings R1 564 opdok vir dienste, teenoor R1 434.

Athol Trollip, die DA se federale voorsitter in die Oos-Kaap, sê die gemiddelde middelinkomste-huishouding gaan ’n verhoging in dienste sien van sowat 37% sedert 2015/16.

Volgens Trollip gaan die middelinkomste-huishouding ná die tariefverhogings sowat R3 900 per maand betaal vir hul “mandjie dienste”, teenoor die vorige bedrag van R3 619 per maand.

Die DA se Leander Kruger, lid van die metro se komitee vir begroting en tesourie, sê die uitwerking van die verhogings gaan ook “katastrofies” wees vir laerinkomste-huishoudings.

’n Laerinkomste-huishouding gaan ná die verhogings R1 564 opdok vir dienste, teenoor R1 434.

Hy sê in die twee jaar voordat die DA aan die bewind was, het dienste met 11,6% (2015/16) en 11,7% (2016/17) verhoog.

Met die DA aan bewind was die verhogings 7,64% (2017/18) en 7% (2018/19).

“Die syfers in die begroting wys dat die regering nie kan sê hy dra die armes se belange op die hart nie, want hulle stel weer dubbelsyferverhogings voor.”

Oor die begroting vir die instandhouding van infrastruktuur, sê Trollip dit beteken die sogenaamde bevoordeelde en ontwikkelde wyke gaan al hoe minder gediens word weens infrastruktuur wat agteruit gaan en in duie stort.

“Die begroting het baie min tot geen politieke insette. Die burgemeester (Bobani) was niks meer nie as ’n verwarde toeskouer.”

Daniels oor Bobani

Daniels het hom in die verlede al talle kere uitgelaat oor Bobani en sy koalisieregering.

Van sy uitlatings was:

* “Bobani het niks gedoen om die lewens van mense in arm gebiede te verbeter nie.”

* “Bobani moet verantwoordelikheid aanvaar vir die rits sluipmoorde in Port Elizabeth, die besteding van belastingbetalers se geld en die disrespek wat hy toon teenoor ander partye wat ook deel vorm van die koalisieregering.”

* “Van die hand na die mond val die pap op die grond. Dit is nou die koalisieregering wat die pap op die grond laat val terwyl mense in die noordelike voorstede oopmond staan en wag vir niks.”

* “Bobani en sy nuwe koalisieregering voel ’n veer vir bruin mense.”

* “Bobani-hulle weet hulle sal nie ’n daadwerklike indruk maak in die noordelike gebiede nie, en nou herlei hulle die geld na gebiede waar hulle die meeste kiesers het om hulle gelukkig te hou.”

* “Bobani word nou deur die ANC gelei. Hy hou doodeenvoudig nie by dit waarop daar ooreengekom is nie.”

* “Hy (Bobani) wil net gemors loop en praat en leë beloftes maak.”

* “Die regering is soos ’n ou Datsun, hy vat ’n tydjie om op te warm. Hulle het maar pas begin: hulle verdien ’n kans om te wys wat hulle kan doen.”

Meer oor:  Metro  |  Marlon Daniels  |  Mongameli Bobani  |  Nelson Mandelabaai  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.