Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Manyi lieg vir Zondo’

Mzwanele (Jimmy) Manyi het vir die Zondo-kommissie gelieg toe hy verlede week getuig het hy is in Februarie 2011 “oorgeplaas” uit die pos van direkteur-generaal van arbeid na hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens.

Mzwanele Manyi

“Hy is vier maande vroeër afgedank. Twee senior advokate, van wie een vandag ’n regter is, het in November 2010 bevind dat hy nie bevoeg is om in die staatsdiens te werk nie. Sy laaste amptelike werkdag was einde November 2010,” sê Membathisi Mdladlana, oudminister van arbeid.

Manyi is egter in Februarie 2011 as uitvoerende hoof van die regering se inligtingsdiens aangestel in die plek van Themba Maseko, wat bedank het weens druk van oudpres. Jacob Zuma om die regering se advertensiebegroting na die Guptas se koerant, The New Age, oor te dra.

Manyi is ’n jaar voor die “oorplasing”, in Februarie 2010, op ’n voorlopige kontrak vir ’n proeftydperk van 12 maande as direkteur-generaal van arbeid aangestel.

‘Nie geskik vir diens in staatsdiens.’

Hy was in daardie stadium ook president van die Black Management Forum (BMF) en kommer is uitgespreek omdat die twee poste onversoenbare belangebotsings meebring.

Vyf maande ná die aanstelling, in Mei 2010, het Manyi probeer om die Noorweegse ambassadeur in Suid-Afrika, Tor Christian Hildan, as makelaar te gebruik vir saketransaksies met moontlike Noorweegse beleggers.

Hildan het met Manyi gesprek te voer om aanvoorwerk te doen vir ’n groep Noorse parlementslede wat Suid-Afrika wou kom besoek om werkskeppingsprojekte hier tot stand te bring. Hildan was bitter ontsteld oor Manyi se voorstelle en het ’n klagte as ’n diplomatieke nota ingedien by die destydse Suid-Afrikaanse minister van minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane.

Die klagte het uiteindelik op Mdla­dlana se lessenaar beland en hy het met Hildan daaroor gepraat. Mdladlana het ook vasgestel dat Manyi sakebelange in verskeie maatskappye het en verskeie direkteurskappe beklee.

Hy het twee ander ministers, Richard Baloyi, destyds minister van staatsdiens en administrasie, en Collins Chabane, minister van prestasie en evaluering in die presidensie, oor die kwessie geraadpleeg.

John Jeffery, huidige adjunkminister van justisie, was destyds Baloyi se ministeriële raadgewer en deel van dié beraadslagings.

Hulle het saam besluit dat Manyi geskors moet word en dat ’n tugprosedure moes begin.

“Ek het Manyi vroeg in Junie geskors. Twee senior advokate, advv. Bantubonke Tokota en Dlanga, was die voorsitters van die verhoor en adv. Nkahloleng Phasha, hoofdirekteur van regsdienste in die departement van arbeid, het al die reëlings getref.

“Die tugverhoor is vier keer uitgestel. Manyi het hom eenvoudig nie daaraan gesteur nie en nie vir die verhoor opgedaag nie.

“Ná die vierde verhoordatum het die voorsitter aanbeveel dat hy afgedank word op grond van sy gedrag.

“Ek het self die afdankingsbrief geteken waarin hy meegedeel word dat sy dienste einde November eindig omdat hy nie geskik is vir diens in die staatsdiens nie,” het Mdladlana Vrydag aan Rapport gesê.

Manyi het by navraag gesê dis onwaar. “Hulle het nooit klagtes aan my gestel nie. Ek is dus nooit afgedank nie,” het hy gesê.

Volgens hom is hy met spesiale verlof gestuur. Zuma het Mdladlana kort daarna as minister afgedank en vervang met Mildred Oliphant.

In dieselfde kabinetskommeling is Barbara Hogan, genl. Siphiwe Nyanda, Lulu Xingwana en eerw. Makhenkesi Stofile uit die kabinet weggelaat.

Manyi het net 11 maande lank aangebly as hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingsdiens, maar in dié tyd het dié diens se advertensiebesteding aan The New Age sowat R8 miljoen beloop. Besteding aan ander koerante soos City Press, Citizen en Sunday Times was minder as R200 000.

Manyi het met verskeie ministers gebots en einde Januarie 2012 is sy dienskontrak nie hernu nie.

Hy het The New Age sowel as die televisiekanaal ANN7 by die Guptas gekoop, maar albei is intussen toegemaak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.