Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maponya ‘aan voorpunt van ekonomiese bevryding’ – Cyril

Wyle dr. Richard Maponya was die mees toegewyde patriot asook ’n soldaat aan die voorpunt van die stryd vir die ekonomiese bevryding van swart Suid-Afrikaners, wat vandag steeds voortduur, meen pres. Cyril Ramaphosa.

Die president het Dinsdag die huldeblyk gelewer op die amptelike begrafnisdiens van dié ontslape swart sake-ghoeroe op die Universiteit van Johannesburg se Soweto-kampus.

Die diens is ook bygewoon deur ander hooggeplaastes soos oudpres. Thabo Mbeki, oudpres. Kgalema Motlanthe, Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Mangosuthu Buthelezi, LP en voormalige IVP-leier, ministers, adjunkministers, LP’s en sakeleiers.

Ramaphosa het gesê Maponya het sy land en sy mense liefgehad.

“Hy was ’n vegter vir die bevryding van swart Suid-Afrikaners van die boeie van armoede en marginalisering, sowel as van die kettings van ekonomiese uitsluiting.”

Richard Maponya. Foto: Daily Sun

Volgens Ramaphosa was Maponya egter ook gedryf deur die “oortuiging dat Suid-Afrika nooit werklik vry sal wees totdat die vrugte van welvaart deur al sy mense gedeel word nie”.

Ramaphosa het bygevoeg dat Maponya ten spyte van sy statuur as die “doyen van swart entrepreneurskap”, altyd bereid was om ander onder hom te help.

“Van sy vroegste dae af en lank voordat dit ’n gewilde term geword het, het hy die kwaliteite van verantwoordbare korporatiewe burgerskap gedemonstreer.

“Hy het nie die winste wat hy oor dekades heen gemaak het, opgegaar nie, maar baie van dit teruggeploeg in die gemeenskappe waarin hy sake gedoen het.

“Hy het nie korporatiewe maatskaplike beleggings net gesien as ’n oefening van regmerkies maak nie, maar as ’n noodsaaklikheid om die rasgegronde patrone van die ekonomie te transformeer.”

Volgens Ramaphosa het Maponya in ’n demokratiese Suid-Afrika die rol van die privaat sektor gesien as ’n vennoot van die regering om te help om die probleme van werkloosheid, armoede en onderontwikkeling op te los.

Maponya het ook nooit gehuiwer om die regering te berispe as hy gevoel het dat hulle die pad byster raak nie, maar hy het dit altyd uit beginsel gedoen, nie kwaadwillig nie.

“Hy was bewus van die land se probleme, maar het ons altyd aangemoedig om meer te doen en ekstra moeite te doen om die sakeomgewing, veral vir klein ondernemings, te verbeter.”

Ramaphosa het bygevoeg in sy laaste gesprekke met Maponya het laasgenoemde hom aangemoedig om sy bes te doen om sy grootste droom – die stigting van ’n akademie vir jeug-entrepreneurskap – te verwesenlik. “Dit is ’n droom wat ek sal probeer om namens hom te verwesenlik.”

Ramaphosa het gesê Maponya het nooit probleme probeer intellektualiseer nie, maar het altyd aangebied om iets daaromtrent te doen. “Hy het geweet dat die privaat sektor die leiding moet neem met die bou van die samelewing wat ons wil hê ten einde die werkloosheidskrisis op te los. Ook dat ons net kan wen as ons saamwerk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.