Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Marikana is jou skuld,’ sê gebruikers ná Cyril-twiet

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag op Twitter deurgeloop nadat hy getwiet het dat Suid-Afrika op dié dag die Marikana-tragedie onthou.

Altesaam 34 stakende mynwerkers van Lonmin is Vrydag sewe jaar gelede hier doodgeskiet. Nog tien mense is in die geweld in die dae voor die slagting vermoor.

Ramaphosa was ten tyde van die betogings ’n nie-uitvoerende direksielid van Lonmin.

Kruise waar die Marikana-slagoffers dood is. Foto: Getty Images

Hy het in die spervuur beland omdat hy voor die slagting in ’n e-pos-bespreking tussen die Lonmin-bestuur en staatsampenare geskryf het: “Die verskriklike gebeure wat ontvou het, kan nie as ’n arbeidsdispuut beskryf word nie.

Dit is ooglopend lafhartige misdadigheid en moet as sulks getipeer word . . . gepaste optrede is nodig om die situasie te beredder.”

Onder die tien slagoffers voor die slagting op 16 Augustus 2012 was twee polisiebeamptes en twee veiligheidswagte wat deur stakende mynwerkers vermoor is.

Die polisie het 34 mynwerkers in Marikana doodgeskiet. Foto: Getty Images
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Getty Images

Ramaphosa het in 2014 voor die Farlam-kommissie van ondersoek na die slagting verskyn om sy rol te verduidelik. Sommige het hom as ’n “moordenaar” en “leuenaar” uitgekryt en gesê hy het “bloed aan sy hande”.

“Die Marikana-tragedie staan uit as die donkerste oomblik in die lewe van ons jong demokrasie. Ons onthou vandag die 44 landgenote wat hul lewe dié week sewe jaar gelede in Marikana verloor het. Ons kan nooit weer toelaat dat so ’n tragedie met ons nasie gebeur nie,” het Ramaphosa getwiet.

Twitter-gebruikers het vinnig gereageer. Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy sy rol in die tragedie ignoreer, terwyl ander gevra het wie het die polisie opdrag gegee om die myners dood te skiet.

@sekgari het vir Ramaphosa gevra wie die “skiet om dood te skiet”-opdrag gegee het, terwyl @Halla_Zikode getwiet het dat Ramaphosa vermetel is om só ’n boodskap op Twitter te plaas terwyl hy nog nooit sy voete in Marikana gesit het nie.

Ander Twitter-gebruikers het vir Ramaphosa in die bres getree en gesê dit is hartseer dat mense glo dat die president die opdrag gegee het dat polisielede die stakers doodskiet.

“Die president het niemand doodgemaak nie. Hou op met die nonsens,” het Lucky Ngoasheng geskryf.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.