Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba gaan Guptas oor rassisme aankla

Of dit een of 20 sake van beweerde rassisme is, die Gupta-broers sal voor die hof gedaag word, sê Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg.

Mashaba het Sondag ’n verklaring uitgereik waarin hy in sy persoonlike hoedanigheid mense uitnooi wat slagoffers was van beweerde rassistiese aanmerkings deur die Gupta-broers, Atul en Ajay, om hom te kontak.

Teen Maandagaand was Mashaba onseker of hy al enige reaksies van slagoffers per e-pos ontvang het, maar steeds vasberade om die Gupta-broers hof toe te sleep.

“Ek is ’n geduldige man. Of dit een of 20 sake is, die saak sal voor die hof gebring word en die Guptas sal na dié land moet terugkeer om die aanklagte die hoof te bied,” sê Mashaba.

Hy sê hy het vertroue in die nasionale vervolgingsgesag verloor om die saak te hanteer, daarom sal hy self ondersoek instel en hom na die gelykheidshof wend.

“Ek het op 11 Junie vanjaar aan adv. Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging, geskryf en hom 60 dae gegee om teen die Guptas op te tree ná onthullings van hul korrupte optrede en beweerde rassistiese optrede teenoor swart Suid-Afrikaners.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester. Foto: Cornel van Heerden

“Ek het geen reaksie gekry nie en besluit om dit self verder voer.”

Hy sê die aantygings teen die Guptas is onder meer dat hulle in sekere gevalle swart Suid-Afrikaners as lui en korrup bestempel het.

“Ek het onlangs die geleentheid gehad om met voormalige en huidige werknemers van Gupta-TV (ANN7) te praat, wat verskeie voorvalle genoem het van die televisiebase wat na bewering rassistiese uitsprake teenoor swart werknemers én swart Suid-Afrikaners oor die algemeen gemaak het.”

Hulle het glo ook die toksiese werksomgewing beskryf wat hulle by die Guptas se televisiekantore in Midrand ervaar het.

Die name van dié werknemers word vir eers weerhou, sê Mashaba, maar hulle is bereid om hul ervarings in ’n hof te deel.

Mzwanele Manyi, wat die Guptas se ANN7-televisiekanaal en die koerant The New Age gekoop het, het Maandag gesê hy werk nie vir die Guptas nie.

Op die vraag of hy bewus is van die bewerings van rassisme teen die Guptas, het Manyi gesê: “Ek stel nie belang om by hierdie saak betrokke te raak nie. Op die oomblik het ek te veel goed op my bord.”

Mashaba het Maandagaand weer vermeende slagoffers van rassisme onder die Guptas genooi om hom te kontak.

“Hoe meer mense, hoe sterker sal die saak wees. Ek sal geduldig wag vir terugvoering.

“Ander mense is bang om die saak te hanteer, maar ek is nie en die Guptas sal nie hiermee wegkom nie,” sê Mashaba.

Slagoffers word deur Mashaba aangemoedig om hom per e-pos te kontak by guptatvcomplaints@gmail.com.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.