Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba gee bes, gaan ActionSA se kenteken verander
Herman Mashaba, leier van Action SA. Foto: Felix Dlangamandla

Herman Mashaba se ActionSA het besluit om sy kenteken te wysig aangesien die Verkiesingskommissie (OVK) steeds weier om hom daaroor as ’n politieke party te registreer.

Die OVK het verlede week ’n appèlaansoek deur ActionSA van die hand gewys nadat die organisasie se eerste registrasie-aansoek geweier is.

Die OVK hou vol ActionSA se kenteken toon te veel ooreenkomste met dié van die Party of Action (POA), en dat dit kiesers kan verwar.

Die OVK het wel sy vroeëre bevinding omgekeer dat die kenteken die Heraldiekwet oortree deurdat dit te veel elemente van die Suid-Afrikaanse vlag bevat.

ActionSA het Maandag in ’n verklaring gesê hy bly oortuig daarvan dat die OVK se besluit “ernstige tekortkominge” het en uiteindelik deur ’n hooggeregshof tersyde gestel sou word.

Die kenteken van die Party of Action (links) teenoor dié van ActionSA. Foto: Verskaf

Tog het die party ná ’n konsultasieproses met ondersteuners besluit om eerder die kenteken te wysig.

Luidens die verklaring sien ondersteuners nie kans vir ’n uitgerekte hofgeding nie, terwyl die “dringendheid vir ActionSA as ’n alternatief tasbaar in gemeenskappe oor die hele land is”.

“Suid-Afrika is in ’n onbestendige posisie met ’n regering wat die land in die verkeerde rigting neem en opposisiepartye wat handdoek ingegooi het rakende projekte om verkiesings te wen,” lui die verklaring.

Volgens ActionSA het die munisipale tussenverkiesings verlede week, toe 65% van geregistreerde kiesers van die stembus af weggebly het, bewys dat kiesers alternatiewe soek.

Michael Beaumont, voorsitter van ActionSA, het by navraag gesê hulle sal poog om die wysigings aan die kenteken binne twee weke te maak, en dan opnuut ’n registrasie-aansoek by die OVK indien.

“Ons gaan die kenteken so na as moontlik aan die oorspronklike probeer hou, want dit is die uitvloeisel van ’n uitgebreide proses,” sê hy.

Mashaba, voormalige burgemeester van die Johannesburg-metro wat intussen uit die DA bedank het, het einde Augustus sy nuwe party amptelik bekend gestel.

John Moodey, voormalig DA-leier in Gauteng, Abel Tau, voormalige waarnemende burgemeester van die Tshwane-metro, en Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, het hul almal reeds by Mashaba se party aangesluit.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Ovk  |  Actionsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.