Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba kla Tau en Makhubo strafregtelik aan

Die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, het Maandag strafregtelike klagte teen sy voorganger, Parks Tau, en Geoff Makhubo, ANC-voorsitter in die stad, by die polisie ingedien.

Dit sluit onder meer klagte van korrupsie, bedrog, geldwassery en rampokkery teen albei in.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester.Foto: Tebogo Letsie

Dit kom nadat die eenheid vir ondersoekende joernalistiek amaBhungane verlede week berig het dat Makhubo, voormalige burgemeesterskomiteelid vir finansies, sy magsposisie misbruik het sodat Regiments Fund Managers, ’n afdeling van Regiments Capital, gunstige kontrakte van die stad kon kry.

In dieselfde berig word beweer dat Tau in sy hoedanigheid as burgemeester van die kontrak geweet en ook daardeur bevoordeel is.

Die ANC het Maandag in ’n verklaring Mashaba se optrede bevraagteken omdat die forensiese ondersoek na die bewerings na verwagting eers volgende week afgehandel sal wees.

“Ons is nie verras nie, want dit dui daarop dat die uitkoms van die ondersoek vooraf bepaal is,” sê Jolidee Matongo, ’n ANC-woordvoerder.

Mashaba beplan reeds ’n vergadering met die Valke sodra die ondersoek afgehandel is.

Parks Tau, voormalige burgemeester van Johannesburg. Foto: Christopher Moagi
Netwerk24 Foto: Christopher Moagi

Hy beweer in ’n verklaring dat Makhubo se onderneming, Molelwane Consulting, R30 miljoen van Regiments ontvang het om te verseker dat “strategiese verhoudinge met die Johannesburg-stadsraad in stand gehou word”.

Regiments het in 2006 ’n kontrak bekom om die stad se “delgingsfonds”, wat uit miljarde rande bestaan om toekomstige skuld te delg, te bestuur.

Mashaba sê die forensiese ondersoek van die stadsraad sal wys dat Tau die ooreenkoms toegelaat het om die ANC te bevoordeel. Hy beweer dat Tau in sy hoedanigheid as burgemeester die tenderproses in 2011 gedwarsboom het omdat Regiments daarvan uitgesluit was en sodoende die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur oortree het.

Geoffrey Makhubo (Nelius Rademan/Foto24 Gauteng)
Geoffrey Makhubo (Nelius Rademan/Foto24 Gauteng)

Hy het verwys na amaBhungane se berig waarvolgens Regiments “sterk belê” het in Tau en Makhubo. Regiments het ’n BEE-konsortium gelei wat aandele ter waarde van R3 miljoen aan onderskeidelik Makhubo en Tau se vrou gegee het, lui die berig.

Hy het verwys na die beweringe dat Regiments meer as R3 miljoen van Denel ontvang nadat Denel ’n lening van R290 miljoen van die delgingsfonds gekry het.

“Wat duidelik blyk, is dat Regiment invloed by die ANC gekoop het deur sy mense in leiersposte en hul families te bevoordeel,” beweer Mashaba.

Hy het ’n beroep op Tau en Makhubo gedoen om as raadslede te bedank.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Parks Tau  |  Geoff Makhubo  |  Strafregtelike Klagte  |  Rampokkery  |  Bedrog  |  Polisie  |  Korrupsie  |  Geldwassery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.