Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba met klag van aanhitsing tot geweld gedreig

Die South African National Civic Organisation (Sanco) wil die burgemeester van Johannesburg  strafregtelik laat aankla omdat hy nog nie onwettige besetters uit die Alexandra-township in Johannesburg verwyder het nie.

Volgens Chris Malematja, Gautengse voorsitter van Sanco, gaan die organisasie Maandag ’n klag van aanhitsing van openbare geweld teen Herman Mashaba by die Alexandra-polisiekantoor indien “omdat sy versuim om die onwettige besetters te verwyder tot openbare geweld lei”.

Die Stjwetla- informele nedersetting in Alexandra langs die Jukskeirivier in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Vroeër is berig hoe onwettige sinkhuise soos paddastoele in die suide van Johannesburg en Alexandra opskiet.

Groen tydelike toilette, wat deur Joburg Water voorsien word, staan tussen die erwe.

Malematja sê Sanco het ’n paar vrae vir die burgemeester, waaronder: “Waarom is hulle (besetters) daar en hoekom het die Johannesburg-metro nie lankal opgetree het nie? Wie is veronderstel om op te tree?”

Hy het vroeër gesê dié “indringing” is nie grondonteiening sonder vergoeding nie, “dis onwettighede” en hoewel Sanco almal, selfs die besetters, verteenwoordig, “is hy nie bo die wet verhewe nie”.

Sandile Mavundla van die #AlexTotalShutdown-beweging sê die onwettige besetters veroorsaak groot probleme vir die gemeenskap van Alexandra.

“Hulle herlei ons krag en water en misdaad word by die dag erger. Daar is selfs ’n paar wat nou sinkhuise opgerig het en vir tussen R1 800 en R2 500 verhuur.”

Hy sê die meeste van die besetters is onwettige immigrante wat in die gekaapte geboue gewoon het wat die metro nou restoureer.

“Hulle kom nou almal hier na ons toe.”

Mashaba het nie op die moontlike strafregtelike klag teen hom gereageer nie.

Oor waarom toilette aan onwettige besetters verskaf word, het Mashaba se woordvoerder soos volg gereageer: “Hoewel die metro beslis die onwettige grondbesettings ontmoedig, is die staat en metro steeds onder ’n wetlike verpligting om ingevolge die Grondwet en ander regsvereistes basiese dienste aan al die inwoners te bied.”

Die metro se plan met die behuisingskrisis

Die sinkhuise in die Stjwetla- informele nedersetting in Alexandra, langs die Jukskeirivier in Johannesburg, is so naby aan mekaar dat dit lyk asof daar een dak oor al die huise is. Foto: Felix Dlangamandla

Die metro het ’n behuisingsagterstand van 300 000 eenhede.

Tans word 84 geboue in die middestad opgeknap om inwoners te huisves wat op huise wag.

“Die Joburg Property Company (JPC) het ook ’n prospektus uitgereik vir nog 97 eiendomme om vir gemengde gebruik te ontwikkel,” sê Mashaba.

Volgens hom het dié eiendomme ’n beleggingswaarde van tussen R20 en R25 miljard en word ontwikkeling oor die metro se streke heen beplan, wat Randburg, Rosebank, Orange Grove, Houghton en Wynberg insluit.

“Die doel is om gemengdegebruik-eiendomme, bekostigbare behuising en studenteverblyf te ontwikkel. Hoewel vernuwing van die middestad noodsaaklik is vir ekonomiese groei in Johannesburg, is die ontwikkeling van gebiede rondom die stad net so belangrik.”

Mashaba sê daar moet weer lewe in “verwaarloosde” dele soos Roodepoort en Randburg geblaas word “deur middel van enorme beleggings in infrastruktuur en eiendomme vir sakegeleenthede”.

Dié ontwikkeling is belangrik omdat dit die behuisingsbeleid insluit waarvolgens ontwikkelaars ’n persentasie van ’n nuwe ontwikkeling vir bekostigbare behuising moet aanwend. Dit sluit vulstasies in Soweto en Denver in, met ’n geskatte beleggingswaarde van R100 miljoen.

“Ek moedig plaaslike entrepreneurs aan om voordeel uit die geleentheid te put en ’n eie sakeonderneming te besit of te bestuur.”

Volgens Mashaba sal die ontwikkeling van 70 eiendomme in Orange Grove tot 1 200 nuwe werksgeleenthede in die eerste boufase en 1 000 nuwe wooneenhede lei.

“Rosebank, wat soos Sandton ’n ontwikkelingsontploffing beleef, is vir ’n R400 miljoen-belegging geoormerk wat 2 000 werksgeleenthede sal skep en ’n 12-verdieping-gebou behels, met 250 wooneenhede en ’n biblioteek van 600 m².

“Anders as die vorige administrasies poog die metro om nuwe, innoverende maniere te kry om die behuisingsuitdagings in die metro te takel.”

Polisiëring is volgens Mashaba uiteindelik ’n provinsiale én nasionale funksie.

“Terwyl die metro binne sy beperkte mandaat met sy beskikbare hulpbronne doen wat hy kan om onwettige besetting te voorkom, berus polisiëring uiteindelik op die boonste vlakke van die regering.”

Meer oor:  Johannesburg  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.