Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba se party: Mense sal kandidate sélf kan kies

Suid-Afrika se volgende politieke party gaan dalk wel in Covid-sonde gebore word, maar vernuwing bring in die manier waarop sy openbare verteenwoordigers aangewys word.

Herman Mashaba, sakeman en voormalige burgemeester van Johannesburg, beoog om sy party in Augustus te stig. Hy sê as twee of meer kandidate vir die party in ’n wyk wil staan, sal die partylede in daardie wyke kies wie hulle wil hê.

“Hulle ken die mense die beste,” sê hy. “In die ANC moet jy mos ’n misdaadgeskiedenis hê voordat jy ’n openbare verteenwoordiger kan wees. Dis hoekom mense nie meer stem nie. Ons wil verseker die inwoners van elke wyk is verantwoordelik vir hul keuses.”

Die parlement se grondwethersieningskomitee het wel ’n uitnodiging gerig vir voorleggings vir die “jaarlikse hersiening van die Grondwet”, maar Mashaba sê die party gaan nie daarvoor wag nie.

“Ons gaan vir die mense van die land wys ons het nie grondwetlike wysigings nodig om voorverkiesings te hou nie.”

Hy beoog wel om grondwetwysigings vir ’n nuwe kiesstelsel voor te stel, maar “die ANC sal dit nie wil hê nie”. “Hulle verkies om mense met misdaadverledes agter geslote deure te verkies, sodat hulle vir mekaar kan skerm.”

Mashaba se The People’s Dialogue het kiesers landwyd sedert Januarie geraadpleeg oor presies wat hulle wil hê.

Meer as 125 000 “substantiewe” voorleggings is ontvang.

The People’s Dialogue gaan as ’n gespreksplatform bly voortbestaan, maar die party sal ’n ander naam hê.

Mashaba sê daar is ’n diepgewortelde frustrasie onder Suid-Afrikaners van alle agtergronde oor die manier waarop die kanse verspeel is om sedert 1994 ’n vooruitstrewende land te bou.

Die ter stigte party wil meeding in Gauteng se drie metro’s – Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni – waar die ANC in 2016 tot onder 50% gedruk is.

“Daar is ander munisipaliteite wat ons oorweeg en ons grondstrukture werk saam met ons om die voorwaardes vir deelname daar te stel. Die belangrikste is geloofwaardige, diensbare leierskap.”

Funzile Ngobeni, wat een van Mashaba se burgemeesterskomiteelede was, gaan takke stig. Hy word bygestaan deur Michael Beaumont, Mashaba se voormalige stafhoof in Johannesburg, en Paul Boughey, voormalige uitvoerende hoof van die DA.

Die party se grondwet sal op grond van die landwye insette opgestel word.

Een van die belangrikste pilare is nierassigheid, sê Mashaba. “Ons wil ’n nierassige Suid-Afrika skep gegrond op die vryemarkekonomie. Ons vra nie daarvoor verskoning nie.

“Die ekonomie moet deur die private sektor gedryf word. En ons soek maatskaplike geregtigheid. Ons kan nie bekostig om die ongelykste land in die wêreld te bly nie. Ons moet dit takel.

“Ons staan ook vir die oppergesag van die reg.”

Mashaba stem saam met Tito Mboweni, minister van finansies, dat restaurante meer Suid-Afrikaners in diens moet neem. Hy sê sy siening is welbekend. “Ek is deur die ANC xenofobies genoem. Selfs as jy wettig in die land is, op watter grondslag is jy hier?

“Jy moet jy ’n vaardigheid bring wat nie hier in Suid-Afrika beskikbaar is nie.”

Meer oor:  Herman Mashaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.