Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba stig nuwe party wat nee sê vir ‘sosialistiese onsin’

Herman Mashaba se nuwe politieke party sal ’n tuiste wees vir die magdom Suid-Afrikaners wat nie glo in “sosialistiese onsin” nie en wat smag na nierassigheid en ’n billike vryemarkekonomie.

Herman Mashaba, voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, praat Donderdag met studente en werklose jeugdiges in Pretoria.

In ’n onderhoud met Rapport het Mashaba vir die eerste keer pertinent erken hy gaan ’n politieke party stig om aan die munisipale verkiesing deel te neem. Daarna is 2024 se algemene verkiesing in sy visier.

“Ons mense roep uit om hulp nadat hulle deur ’n mislukte regering in die steek gelaat is,” het hy Donderdag gesê.

Mashaba, wat tot einde November DA-burgemeester van Johannesburg was, het by sy huis in Sandton met Rapport gesels nadat hy die afgelope week in Mpumalanga ’n draai gaan maak het en toe studente in Pretoria toegespreek het.

In Mpumalanga het Mashaba belowe dat hy die families van drie mynwerkers wat in Januarie 2016 lewend begrawe is by die Lily-myn oos van Barberton, sal bystaan om hul oorskot eindelik te laat uitgrawe.

Die betrokke mynmaatskappy, Vantage Gold Fields, is kort ná die ongeluk in sakeredding geplaas. Dus kon die families van Solomon Nyarenda, Yvonne Mnisi en Pretty Nkambule nie afsluiting kry nie.

Ons mense roep uit om hulp nadat hulle in die steek gelaat is.

Mashaba sê die regering moes lankal ’n plan gemaak het om die myners se oorskot te herwin.

Hy het in November dramaties uit die DA bedank nadat Helen Zille as federale raadsvoorsitter gekies is.

Kort daarna het hy ’n politieke “platform” bekend gestel – The People’s Dialogue – wat hy beklemtoon het nie ’n politieke party is nie.

Hy het eerder na “dialoog” gestreef.

“Ek het dit baie duidelik gemaak waarom ek ’n tweede Kodesa nastreef. Net politici is uit die eerste Kodesa bevoordeel. Ons gesprekforum word gedryf deur gewone mense soos dié van die Lily-myn. Hulle maak saak.”

Hy gaan in Februarie en Maart nog so wyd as moontlik met gewone mense raadpleeg, ’n verslag saamstel oor hul insette en dan ’n party stig.

“Ons gaan, op grond van al die insette, ’n politieke party vorm.”

Mashaba wou nie bevestig of Mmusi Maimane, oudleier van die DA, en dr. Makhosi Khoza, voormalige ANC-LP, ’n rol in sy party gaan speel nie, hoewel ook Maimane dit duidelik maak dat hy na ’n nuwe politieke tuiste soek.

Ook Khoza het die afgelope week aan ’n People’s Dialogue­fokusgroep deelgeneem.

Mashaba sê in sy ervaring stem Suid-Afrikaners saam oor nierassigheid en ’n vryemarkekonomie. Hulle soek ook na kreatiewe maniere van regstelling wat armoede ongeag velkleur in ag neem en enorme ongelykhede takel.

“Baie mense sê ons kan nie versoening en nasiebou hê met soveel ongelykhede nie. Ons moet dit as ’n fundamentele vereiste hanteer.

“Suid-Afrikaners begeer ’n vryemarkekonomie, hulle stel nie belang in die sosialistiese onsin nie.

“Die land se mense is ook ernstig om ’n regering te hê wat misdaad pak en daadwerklik teen misdadigers optree.

“Hulle streef ook na ’n regering wat die landsgrense kan beskerm. Ons grense moet beheer word en dit het niks met xenofobie te make nie.”

Baie kla oor die kiesstelsel en weet nie wie hul parlementslid of wyksraadslid is nie, sê hy.

Mashaba se voorkeur is om in Gauteng te begin en in die drie groot metrorade – Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni – deel te neem en landwyd uit te brei met die oog op 2024 se algemene verkiesing, “maar ons kry baie oproepe van ander provinsies en die kwessie is oop vir bespreking”.

Daar sal later oor ’n naam, strukture en leierskorps besluit word.

Nie sommer enigiemand sal die party mag verteenwoordig nie.

“Ons keuringsproses gaan uiters streng wees vir bestaande politici. Vir my is die grootste uitdaging om geloofwaardige kandidate te kry wat regtig hul gemeen­skappe wil dien en nie net hul partye en maag wil dien nie. Suksesvolle mense met vaardighede wat tot ’n beter Suid-Afrika wil bydra,” sê hy.

Athol Trollip, voormalige federale voorsitter van die DA wat saam met Mashaba bedank het, sê hoewel hy meen daar is nie ’n behoefte aan nog politieke partye nie, is Mashaba se uitreik na gewone mense om ’n mandaat te kry “edel en rigtinggewend”.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.