Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba-twis: Mmusi wou lei

’n Uitval oor wie die leier van hul politieke party sou wees, het glo veroorsaak dat Mmusi Maimane en Herman Mashaba se paadjies vir eers skei.

Mmusi Maimane en Herman Mashaba verlede jaar tydens Mashaba se bedanking as burgemeester. Foto: Felix Dlangamandla

Rapport verneem by ’n ingeligte bron dat Maimane, voormalige leier van die DA, en Mashaba, voormalige DA-burgemeester vir Johannesburg, twee weke gelede ’n uitval gehad het oor wie leier van die voorgenome wegbreekparty sou wees wat volgende jaar aan die munisipale verkiesing wil deelneem.

Die ontmoeting het volgens Rapport se bron, wat na aan Maimane was toe hy nog DA-leier was, by Mashaba se huis in Johannesburg plaasgevind. Die twee kon nie tot ’n vergelyk kom nie. Kort daarna het Maimane aange­kondig dat hy sy eie “beweging”, die Movement for One South Africa, begin.

Maimane het egter Saterdag aan Jacob Rooi gesê dat daar “geen geveg” tussen hom en Mashaba is nie.

“Daar is nie ’n konflik tussen ons nie. Die waarheid is dat ek ’n nasionale beweging bou waarby politieke formasies sal aansluit. Die party sal een daarvan wees. Ons moet verseker dat as ons aan verkiesings deelneem, dit in 2021 gaan wees. Meer as enigiets anders, is ek gefokus om ’n nasionale beweging te bou, terwyl hy (Mashaba) ’n party begin. As jy party nommer 49 in Suid-Afrika het, watter verskil maak dit? Ek is verbind tot ’n beweging uit kerke, die burgerlike gemeenskap, ensomeer,” sê Maimane.

As jy party nommer 49 in Suid-Afrika het, watter verskil maak dit?

Maimane het Woensdagmiddag sy plan vir ’n beweging aangekondig en gesê hy gaan die land deurkruis om die “mense se beweging” te vorm wat “werk sal skep” en “historiese ongeregtighede sal regstel”.

Die Movement for One South Africa blyk ’n antwoord te wees op Mashaba se The People’s Dia­logue, ’n platform wat Mashaba op die been gebring het kort nadat hy in November as burgemeester bedank het.

Sy doel is dat dit ’n “tweede Kodesa” sal wees. Verlede week het Mashaba egter teenoor Rapport en City Press bevestig dat hy wel ’n politieke party stig om aan volgende jaar se munisipale verkiesing deel te neem.

Maimane was vinnig om hom dit na te doen, en het die afgelope week in ’n onderhoud met Radio 702 gesê dat hy reeds in gesprek getree het met verskeie klein politieke partye oor die vorming van ’n nuwe party. “Ons is klaar besig om Suid-Afrikaners te werf van oor die land heen,” het Maimane gesê. “Ons wil ’n hele aantal politieke partye ook aan boord kry.”

Rapport het ook by ’n senior DA-LP verneem dat Maimane reeds kontak gemaak het met skenkers van sy voormalige party en vergaderings in die komende weke belê het.

Na aanleiding van berigte vroeër die week dat Maimane en Mashaba koppe gestamp het oor hul elkeen se rol in ’n nuwe politieke tuiste, het die twee Donderdag ’n gesamentlike verklaring uitgereik om vure te probeer doodslaan.

“Ons het albei uit die DA bedank nadat ons onafhanklik tot die besef gekom het dat dit nie meer die voertuig is waarmee ons die land kan regruk en ’n inklusiewe Suid-Afrika bou nie,” lui die verklaring.

“Sedert die bekendstelling (van The People’s Dialogue) is meer as 13,7 miljoen Suid-Afrikaners op verskeie platforms bereik, wat gelei het tot amper een miljoen wisselwerkings met mense.

“Die boodskap van hierdie mense was duidelik. Terwyl dialoog belangrik is, moet dit oorloop in optrede en ’n lewensvatbare politieke alternatief.”

Volgens die verklaring het albei inisiatiewe die einddoel om die land “reg te maak en ’n Suid-Afrika te bou wat vir almal werk”.

Hulle beskou ook nie hul verskillende organisasies as mededingend nie, maar eerder as aanvullend.

Op ’n vraag of hy en Mashaba by mekaar gaan aansluit het, het Maimane gesê: “Absoluut, geen probleem, maar intussen bou ek die beweging oor die land heen.”

Ten spyte van die verwere dat albei “bewegings” in eie reg ontstaan het, het Maimane in Desember nog in video’s verskyn waarop The People’s Dialogue se logo vertoon word.

Die toekoms van Maimane en Ma­shaba se organisasies is ook die afgelope naweek by die DA se federale uitvoerende vergadering bespreek.

Volgens ’n lid van die uitvoerende bestuur is die party nie bekommerd oor Maimane se party nie en put hulle trouens genot daaruit om te sien hoe hy rondval.

“Nou kan kiesers sien waarmee ons moes sit,” sê die LP.

Mashaba is egter ’n ander saak.

“Hoewel ons nie noodwendig saam met sy politiek stem nie, kan ons nie miskyk dat daar ’n mark vir sy populistiese uitsprake is nie.

“Sy organisasie word ook baie meer professioneel bestuur as Mmusi s’n, en hy sal dit beter bestuur as Mmusi.”

Volgens die bron is daar veral ’n vrees dat Mashaba hom kan toespits op Johannesburg en kiesers by die DA afrokkel.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Mmusi Maimane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.