Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashaba wil só nuwe lewe in SA stede blaas

Herman Mashaba se nuwe politieke party, ActionSA, sê hy oorweeg dit om vir volgende jaar se plaaslike verkiesing buiten in Johannesburg, Tshwane (Pretoria) en Ekurhuleni (Oos-Rand) ook kandidate in Kaapstad, eThekwini (Durban), Mangaung (Bloemfontein) en die Nelson Mandelabaai-metro (Port Elizabeth) verkiesbaar te stel.

Dié aankondiging is Maandagoggend ná die eerste vergadering van die party se leierskap die afgelope naweek op ’n mediakonferensie van die party in Johannesburg gedoen.

Mashaba sê ActionSA se groot fokus sal wees om nuwe lewe te blaas in bestaande stede se middestad-gebiede wat die laaste 26 jaar baie agteruitgegaan het.

Die herlewingsplan vir die land se grootste stede sal gegrond word op die Johannesburgse middestad-hernuwingsprojek wat in sy tyd as Johannesburgse burgemeester beslag gekry het, sê Mashaba.

Herman Mashaba, leier van ActionSA

Hy sê dié projek het R32 miljard se beleggings gelok en tot 11 000 nuwe werkgeleenthede gelei.

Boonop is 25 000 bekostigbare behuisingseenhede na aan mense se werkplekke gebou.

Dieselfde model sal ook in ander stede toegepas word.

Dit sal alles in samewerking met die private sektor gedoen word.

ActionSA sal nou begin om sy strukture na al bogenoemde stede uit te brei.

Terselfdertyd is aangekondig dat John Moodey, die vorige DA-leier in Gauteng wat onlangs uit die DA bedank het, hom ook by ActionSA aangesluit het. Hy sal die Gautengse voorsitter van die nuwe party wees.

“Hy is iemand met baie integriteit en ervaring,” het Mashaba gesê.

Mashaba was tot verlede jaar die DA-burgemeester van Johannesburg.

Die voormalige ANC-parlementslid dr. Makhosi Khoza sal voortaan ActionSA se KwaZulu-Natalse voorsitter wees.

Nog ’n voormalige ANC-parlementslid en fluitjieblaser, Vytjie Mentor, is die party se voorsitter in die Wes-Kaap.

Ander aanstellings sal oor die volgende paar weke en maande gemaak word, het Mashaba gesê.

Mashaba sê hy glo ActionSA sal in die toekoms Suid-Afrika se enigste alternatief vir die ANC wees.

“Die oorgrote meerderheid van Suid-Afrikaners soek ’n politieke tuiste wat ’n einde sal bring aan die rasseverdeeldheid wat tans deur politieke partye aangehits word.”

Mashaba glo ActionSA sal baie van die meer as 18 miljoen Suid-Afrikaners wat met verlede jaar se algemene verkiesing van die stembus weggebly het, lok om vir hom te stem.

Die Verkiesingskommissie (OVK) het verlede week die party se registrasie as ’n politieke party geweier omdat die Suid-Afrikaanse vlag deel van ActionSA se kenteken is.

Mashaba sê hy is diep bekommerd oor die OVK. Nie net omdat die OVK sy aansoek om registrasie verwerp het nie, maar ook oor die moontlikheid dat ’n vrye en ’n regverdige verkiesing deur die gebruik van elektroniese stemtoestelle en die moontlikheid van buitelandse inmenging beïnvloed kan word.

Mashaba sê adv. Gill Benson, ’n voormalige waarnemende regter, wat hom pas by ActionSA aangesluit het, sal die party help om te appelleer teen die OVK se besluit om sy registrasie af te keur.

As dit nodig is, sal die party dit in die land se hoogste howe beveg.

ActionSA wil private vervolgings instel

ActionSA sê hy sal met ’n reeks private vervolgings begin in die lig van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se versuim om sy vervolgingsmandaat na te kom.

Só het Herman Mashaba, die party se leier, op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê.

Aankondigings hieroor sal binnekort gedoen word.

ActionSA meen ook daar moet streng opgetree word teen lede van die regerende Zanu-PF-party in Zimbabwe wat belange in Suid-Afrika het.

ActionSA sê dié leiers het gehelp om Zimbabwe te verwoes. Daarom moet hul bates in Suid-Afrika bevries word.

Hulle moet ook nie toegelaat word om die land binne te kom nie.


Meer oor:  Actionsa  |  Herman Mashaba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.