Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mashatile waarsku ANC-lede oor ‘planne om land te ontwrig’

Enige ANC-lid wat by planne betrokke is om die land tot stilstand te dwing uit steun vir die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, sal ingevolge dié party se grondwet getugtig word.

Paul Mashatile, die ANC se tesourier-generaal, het Dinsdag dié waarskuwing gerig toe hy joernaliste by die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria toegespreek het.

Mashatile, Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, en ander ANC-hooggeplaastes het ’n gedenkdiens bygewoon wat gehou is vir Solomon Mahlangu, die ANC-strydros en Umkhonto weSizwe-lid wat in 1979 in dié gevangenis tereggestel is.

Joernaliste het Mashatile uitgevra nadat City Press Sondag berig het dat ondersteuners van Magashule en oudpres. Jacob Zuma onder die vaandel van radikale ekonomiese transformasie (RET) beplan om die land van vandeesweek af tot stilstand te dwing.

Dit spruit uit pres. Cyril Ramaphosa en die ANC se nasionale uitvoerende komitee se aankondiging verlede week dat alle ANC-leiers en -lede, onder wie Magashule, wat van korrupsie en ander ernstige misdade aangekla word, hul poste binne 30 dae vrywillig moet ontruim. Indien nie, sal hulle geskors word.

Dié aangeleentheid het tot grootskaalse verdeeldheid onder ondersteuners van Ramaphosa en Magashule in die ANC gelei.

Ons vra die ANC om ons in hierdie alliansie te lei om die probleme met korrupsie uit te roei.

Mashatile het gesê planne om die land tot stilstand te dwing sal neerkom op swak dissipline en dat die ANC-grondwet riglyne het oor hoe om in sulke gevalle op te tree.

Hy het bygevoeg dat die ANC nie bekommerd is daaroor nie omdat die proses oor die opsy-staan-klousule regverdig hanteer sal word.

Carl Niehaus, woordvoerder van die RET-groepering, wou Sondag nie erken of ontken dat daar planne is om die land te ontwrig nie.

Luidens ’n uitgelekte dokument van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid met Maandag se datum het die polisie egter “inligting ontvang dat ’n groep wat hulself die RET-faksie noem, beplan om metro’s, nasionale paaie, toegang tot sakesentrums en selfs voorstedelike gebiede met protesaksies tot stilstand te dwing”.

Intussen het dr. Alex Mashilo, SAKP-lid, Dinsdag by Mahlangu se graf in Mamelodi gesê die ANC moet toesien dat beskuldigdes soos Magashule binne 30 dae hul poste ontruim.

Volgens Mashilo het Mahlangu nie gesterf vir ANC-leiers om hulself te verryk nie.

“Ons vra die ANC om ons in hierdie alliansie te lei om die probleme met korrupsie uit te roei.”

Mashatile het Mashilo verseker dat die ANC hom en die SAKP nie in hierdie verband sal teleurstel nie.

Intussen het Zandile Gumede, senior ANC-lid in KwaZulu-Natal, Sondag die verdeeldheid tussen die verskillende ANC-faksies beklemtoon toe sy op die begrafnisdiens vir die Durbanse ANC-raadslid Bheki Thabethe gesê het dat die “organisasie in die moeilikheid is as jy jou eie bottels water dra omdat jy nie jou kamerade kan vertrou nie”.

Gumede, wat self van korrupsie beskuldig word en ook ná 30 dae haar pos moet ontruim en ’n stoere Zuma-ondersteuner is, het erken dat die ANC “deur ’n moeilike tyd gaan”.

Sy het bygevoeg dat dit deesdae vir die ANC makliker is om oudpres. FW de Klerk as ANC-kamerade te beskerm.

Gumede het verder gesê dat staatsagentskappe gebruik word om ANC-faksiegevegte te veg en dat die party se beleid oor RET nie in werking gestel word nie omdat ANC-leiers op hulself en hul faksies fokus.

Sy het indirek verwys na die ANC se onlangse ondersteuning van die DA, “die vyand”, se mosie in die parlement teen adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, en bygevoeg dat geen tugstappe daaroor teen ANC-leiers ingestel is nie.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Paul Mashatile  |  Anc  |  Anc-Faksies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.