Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Masker-herrie woed ná misleidende video

Die Menseregtekommissie (MRK) gaan ondersoek instel na bewerings dat ’n televisiejoernalis rassisties sou wees omdat sy volgens sommige kritici net vir swart politici vra om maskers tydens onderhoude te dra.

’n Skermgreep van Lindsay Dentlinger se onderhoud met die ANC-LP Judith Tshabalala op 28 Oktober 2020 ná die ATM se mosie van wantroue in die president uitgestel is. Tshabalala kan gesien word sonder ’n masker.

’n Storm het om die kop van Lindsay Dentlinger, ’n eNCA-joernalis, losgebars nadat ’n misleidende video op Twitter versprei is wat glo op ’n “rassistiese patroon” dui.

Die EFF wil opnuut eNCA boikot, die ANC het onder leiding van sy adjunk-sekretaris-generaal Jessie Duarte by eNCA se kantore gaan betoog en kommentators soos Eusebius McKaiser eis streng dissiplinêre optrede teen Dentlinger.

As eNCA se parlementêre verslaggewer nader Dentlinger gereeld politici om kommentaar ná belangrike geleenthede soos die begrotingsrede.

Dit is ’n kwaadwillige video. Die regte vraag is dus: Wie het die video gemaak?

Rapport het die gemanipuleerde video bekyk en gevind dat Twitter-gebruikers net enkele videogrepe van onderhoude deur Dentlinger tussen 28 Oktober en 24 Februarie buite konteks saam geredigeer het. Uit die omstrede video blyk dit dat Dentlinger onderhoude met wit politici voer sonder dat hulle maskers dra, maar swart politici versoek om hul maskers op te sit.

Beeldmateriaal waar Dentlinger in dieselfde tyd onderhoude met swart politici soos die ANC-LP Judith Tshabalala en IVP-LP Mkhuleko Hlengwa voer sonder hul maskers, is nie in die video nie. Boonop het eNCA sy beleid begin vanjaar verander dat mense met wie onderhoude gevoer word, maskers moet dra. Dit was dus nie ’n vereiste op 28 Oktober, toe van die beeldmateriaal opgeneem is nie.

Dentlinger wou nie kommentaar lewer nie.

Dentlinger voer ’n onderhoud met Vuyo Zungula, ATM-leier, op 3 Desember 2020 buite die hooggeregshof in Kaapstad. Hy is nie gevra om ’n masker te dra nie. Foto: eNCA

Geordin Hill-Lewis, ’n DA-LP wat sonder ’n masker in die video verskyn, het tot Dentlinger se verdediging gekom deur ’n skermgreep op Twitter te deel waarin hy – op Dentlinger se versoek – wel ’n masker dra tydens ’n onderhoud.

Hy skryf hierby: “Dit is duidelik dat wie ook al die video gemaak het, spesifieke beeldmateriaal uitgekies het om ’n spesifieke rasse-agenda te dryf. Dit is ’n kwaadwillige video. Die regte vraag is dus: Wie het die video gemaak?”

John Bailey, besturende redakteur van eNCA, het gesê Dentlinger is nou met verlof.

“Lindsay het die maatskappy se volle steun gekry sedert hierdie voorval gebeur het. Sy het ook haar sienings en konteks op die kanaal gedeel.”

’n Skermgreep van ’n onderhoud wat Dentlinger met ATM-LP, Vuyo Zungula voer in Desember 2020. Sy masker het op sy ken gehang tydens die gesprek. Foto: Youtube/eNCA

Ná ’n vergadering met Dentlinger om die kwessie te bespreek, het die eNCA-bestuur tot die gevolgtrekking gekom dat haar gedrag nie rasgedrewe of kwaadwillig was nie. Die bestuur skryf die inkonsekwente toepassing van hul maskerbeleid toe aan die druk waaronder verslaggewers in regstreekse uitsendings verkeer.

Intussen het die ANC Dinsdag voor die kantore van eNCA in Hyde Park, Johannesburg, betoog teen die “rassistiese optrede”.

In ’n memorandum wat oorhandig is, skryf die ANC Suid-Afrikaners is tereg woedend oor Dentlinger se optrede en dat dit ’n belediging is vir alle swart mense. “Dit is in ooreenstemming met die mentaliteit van wit heerskappy, wat swart mense histories met siektes en vuilheid verbind het. Ons herinner haar en haar bestuurders daaraan dat Covid-19 nie ’n swart pandemie is nie.”

Dentlinger en die eNCA-bestuur het Woensdag met die UDM vergader om hul ontevredenheid oor die masker-insident te bespreek. In ’n greep op die gemanipuleerde video het Dentlinger vir die UDM-LP Nqabayomzi Kwankwa genader en gevra om sy masker te dra, kort nadat sy die VF Plus-leier, Pieter Groenewald, toegelaat het om sonder ’n masker te praat.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, wat in die omstrede video nie ’n masker gedra het nie, het ’n skermgreep op Twitter gedeel waarin Dentlinger hom by ’n ander geleentheid gevra het om een te dra.

Kwankwa het aan Rapport gesê hul gesprek het gefokus op die manier waarop eNCA die kwessie hanteer het. Hy meen die bestuur moes die betrokke “slagoffers” om verskoning gevra het vir hul “pyn en lyding”.

Kwankwa sê Dentlinger het wel die Saterdag ná die video in die kuberruim versprei is, na hom uitgereik en om verskoning gevra vir die wyse waarop dit hom verneder het. Die nuuskanaal het glo ook die Sondag na hom uitgereik.

“Wat ons sou help om hierdie rassistiese aantygings te hanteer, sou wees as eNCA kon sê: ‘Kyk, Covid-19 het verlede jaar begin: Hier is ’n paar video’s waar Lindsay vir ’n wit man sê trek jou masker aan, en hier is ’n voorbeeld waar Lindsay ’n onderhoud met ’n swart man of swart leier sonder ’n masker toestaan’.

“In die afwesigheid van dié bespreking maak jy dit vir die publiek moeilik om die bespreking oor die voorval objektief te hanteer,” verduidelik Kwankwa.

Hlengwa het vroeër op sosiale media gal gebraak oor die omstrede video, maar wou by navraag nie aan Rapport kommentaar lewer totdat hy self met Dentlinger en eNCA vergader het nie.

Die MRK het gesê hulle het ná verskeie klagtes, onder meer van Bantu Holomisa, UDM-leier, besluit om ’n ondersoek na Dentlinger te begin.

Die kommissie het versoek om met eNCA en Dentlinger oor die bewerings van rassisme te vergader.

Die DA het intussen aangedui dat hulle die MRK gaan nader om die ANC en EFF te ondersoek dat hulle ras gebruik om Suid-Afrikaners uit te lok deur hul hantering van die kwessie.

Meer oor:  Lindsay Dentlinger  |  Joernalis  |  Rassisme  |  Enca  |  Masker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.