Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mbali ’n adjunk? Die kans is nul

Hy is die regte leier vir die DA omdat hy strydfiks is vir die party se grootste geveg: om Suid-Afrika te red.

Ntuli

Sy is die regte leier omdat die DA juis ’n “nuwe manier” van politiek nodig het om te wys dat die party ernstig is om die ANC-regering uit die kussings te lig.

Dit was Saterdag die finale boodskappe van John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA, en Mbali Ntuli, KwaZulu-Natalse LPW, voor 2 039 DA-afgevaardiges wat vir hul nuwe permanente leier by die party se virtuele federale kongres moes stem.

Die uitslag van die stemme word vanmiddag om 14:00 aangekondig.

Steenhuisen is die gunsteling om te wen en sy gewildheid onder afgevaardiges is gister verder geïllustreer toe twee van sy wysigings aan die DA se grondwet, waardeur takke groter mag gegee is, deur byna 90% van alle afgevaardiges ondersteun is.

’n Wysiging aan die DA se grondwet kan net plaasvind as 80% van alle afgevaardiges wat aan die DA-kongres deelneem, daarvoor stem.

Steenhuisen se wysigings wat geslaag het, het gevra dat takke nou as “sleutel-belanghebbendes” van die party verklaar word, en dat takke aktiviste en vrywilligers vir die party moet werf.

Hierdie twee wysigings het onderskeidelik 89,8% en 89,2% van afgevaardiges se steun geniet.

Steenhuisen se ander drie wysigings het egter nie geslaag nie, alhoewel twee steeds meer as 50% van afgevaardiges se steun geniet het.

John Steenhuisen, interim leier van die DA, Saterdag in Durban voor die aanvang van die party se federale kongres.

Daarenteen het twee wysigings wat Ntuli voorgestel het, glad nie aftrek gekry nie.

Altesame 61,3% van die afgevaardiges het teen Ntuli se wysiging gestem dat die party ’n posisie vir ’n adjunkleier moet skep.

Verskeie politieke ontleders het die afgelope week voorgestel dat dit ’n goeie strategiese skuif van Steenhuisen sou wees om vir Ntuli as sy adjunk aan te stel.

Zwakele Mncwango, KwaZulu-Natalse leier van die party, het die afgelope week op Twitter ook op hierdie idee gesinspeel.

“Terwyl ek vir @mbalimcdust as leier onderskryf het, is ek bly dat @jsteenhuisen ook van my provinsie kom. Albei is fantastiese leiers en moet as ’n span saamwerk ten spyte van wie gekies word,” het Mncwango getwiet.

DA-lede in die Steenhuisen-kamp het egter koue water op die idee gegooi.

“Daar is vir ons geen rede om na Ntuli uit te reik nie, ons het die volle ondersteuning van die afgevaardiges in die party,” het ’n LP na aan Steenhuisen gesê.

Dit is ook alombekend dat die Steenhuisen-veldtog nie gelukkig is met hoe Ntuli haar veldtog bestuur het nie.

Sy het Steenhuisen onder meer tot vier openbare debatte uitgedaag wat uiteindelik deur die party se federale raad verbied is.

Ntuli het ook die party se federale regskommissie (FLC), wat daarvoor verantwoordelik is om partylede te dissiplineer, gekritiseer en beweer dat hierdie liggaam gebruik word om faksiegevegte in die party te voer.

Die kwessie van die FLC is die afgelope week in Steenhuisen en Ntuli se interne debatte geopper, met Steenhuisen wat glo met Ntuli se standpunt saamgestem het dat die FLC by tye misbruik word.

Steenhuisen het nogtans Saterdag in sy toespraak oënskynlik na Ntuli gekap toe hy gesê het “pleks daarvan om die DA in die media te kritiseer, het ek hard gewerk om sy beeld te herbou”.

Ntuli se tweede wysiging, dat die hoofsweep van die party nie in die party se nasionale werkkomitee moet dien nie, is deur 74,5% van die lede verwerp.

Ander belangrike wysigings wat gister deur die party bespreek is, is dat partyleiers voortaan slegs vir twee termyne van vier jaar sal kan dien. Altesame 51,5% het teen hierdie wysigings gestem.

Dit is nog nie duidelik hoe die besluit die toekoms van Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, en Jane Sithole, DA-leier in die Vrystaat, gaan beïnvloed nie. Hulle het albei verlede maand aangedui dat hulle die voorstel steun en daarom hulself nie weer verkiesbaar sou stel by hul provinsiale kongresse nie.

’n Voorstel dat die federale kongres ook die mag moet hê om die amp van voorsitter van die federale raad te kies, is ook deur 69,8% van die afgevaardigdes verwerp.

Helen Zille, huidige voorsitter, word deur Mike Moriarty, DA-voorsitter in Gauteng, om hierdie pos uitgedaag. Slegs die sowat 150 lede van die party se federale raad kon vir hierdie pos stem.

Omdat die raad se samestelling nie veel verskil van toe Zille verlede jaar in Oktober tot hierdie pos verkies is nie, is sy die gunsteling om herkies te word.

Meer oor:  Mike Moriarty  |  Helen Zille  |  John Steenhuisen  |  Mbali Ntuli  |  Leierskapstryd  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.