Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mbalula maak vuur onder vervoersektor

Die benarde stand van Suid-Afrika se openbare vervoerstelsel is een van die belangrikste beperkings vir ekonomiese groei en maatskaplike bevryding.

Daarom moet alle ingrypings om dít reg te ruk, volgens Fikile Mbalula, minister van vervoer, met hernude energie gedoen word.

Fikile Mbalula, minister van vervoer.Foto: DAILY SUN

Dít was Dinsdag Mbalula se direkte opdrag aan voorsitters en uitvoerende hoofde van staatsentiteite in die vervoersektor wat onder sy departement val.

Mbalula het in Johannesburg met dié groep vergader om sy departement se onmiddellike prioriteite uit te stippel en om ingrypings te bespreek om die probleme wat dié sektor teister, op te los.

Hy het dit ook aan hulle duidelik gemaak dat staatsentiteite (SOE’s) in sy departement, net soos alle ander, ’n belangrike instrument vir ekonomiese transformasie is wat die breër sosio-ekonomiese ontwikkelingsplanne van die regering in werking moet stel.

“Dit beteken julle kan nie bekostig om hulpbronne te vermors of om neste van korrupsie te wees nie.”

Hy wil hê bestuurs- en finansiële probleme in die SOE’s moet dringend en met vasberadenheid opgelos word.

Mbalula het ook pres. Cyril Ramaphosa se boodskap dat kaderontplooiing en politieke inmenging in SOE’s gestop moet word, herhaal.

“Ferm en beslissende besluite moet die prestasie van jul onderskeie entiteite verbeter, terwyl die aanstel van vaardige en geskikte personeel en direksies beter (korporatiewe) beheer moet verseker. Daar moet ook gewaak word teen onbehoorlike inmenging, veral in die toekenning van tenders en in personeelaanstellings.”

Volgens Mbalula het hy in sy eerste 100 dae as minister daarop gefokus op knellende probleme wat dienslewering beperk het, te probeer oplos. Dit het erge swakplekke in die vervoersektor blootgelê.

Hy erken ook dat veiligheidsverwante voorvalle ten spyte van baie vorige ingrypings steeds onverpoos toeneem.

Hy het erken dat die huidige stelsel van openbare vervoer nie voldoen aan die behoeftes van die meerderheid Suid-Afrikaners wat dit daagliks moet gebruik vir toegang tot ekonomiese sentrums en maatskaplike geriewe nie.

Volgens hom moet daar dus met hernude energie ingegryp word, “nie net om die stadsbeplanning van apartheid te ontrafel nie, maar ook om die ekonomie te stimuleer”.

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) gaan volgens hom daarom voort om sy pendeldienste te moderniseer en sal oor die volgende drie jaar daarop fokus om sy vloot treine te hernu.

Dit sal ook fokus op die instandhouding van sy bates en die veiligheid van passasiers om “die betroubaarheid van dienste te verbeter en passasiersgetalle te verhoog”.

Volgens hom is die vervoersektor een sy departement se grootste infrastruktuur-bouprogramme met massiewe infrastruktuurbeleggings in Prasa, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) en Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

“Die afgelope vier jaar het Prasa R18 miljard van sy kapitaalbegroting nie bestee nie – ten spyte van massiewe agterstande in sy vloothernuwingsprogram.”

Volgens Mbalula is sy departement se totale kapitaalbegroting vir die volgende drie jaar R137 miljard. Dit sal so aangewend word dat dit die maksimum impak op ekonomiese groei en werkskepping sal hê.

Hy erken ook dat veiligheidsverwante voorvalle ten spyte van baie vorige ingrypings steeds onverpoos toeneem. Die Reguleerder van Spoorveiligheid se 2018-’19-verslag lui dat daar 20% meer voorvalle as in die vorige boekjaar was.

Volgens Mbalula sal die belegging van R700 miljoen in Prasa en R437 miljoen in Acsa vanjaar gebruik word vir die inkontraktering van permanente veiligheidspersoneel om spoorweë en lughawens meer doeltreffend te kan beveilig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.