Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mbeki ontstel talle met feite én leuens oor Zim

Die voormalige Nasionale Party-regering was onbewus van ’n ooreenkoms met pres. Robert Mugabe om in 1990 eers te wag met grondhervorming aangesien grondroof in ons buurland wit mense in die onderhandelingsproses wantrouig teenoor die ANC sou maak.

28 April, 1996: Die ANC se sekretaris-generaal Cyril Ramaphosa, pres. Nelson Mandela, adj.pres. FW de Klerk en Roelf Meyer, die Gautengse provinsiale leier, spreek die media toe ná hul vergadering oor die Grondwet. Foto: Gallo Images

So sê Roelf Meyer, destyds hoofonderhandelaar van die NP. Die kantoor van oudpres. FW de Klerk dra ook nie kennis daarvan nie.

“Dis die eerste woord wat ek daarvan hoor,” sê Meyer aan Rapport.

Die pakt met Mugabe het aan die lig gekom in ’n toespraak wat oudpres. Thabo Mbeki Dinsdag gelewer het by ’n gedenkdiens vir Mugabe in Durban.

Mbeki het gesê Mugabe is in 1990 deur hoofman Omega Anyoku, destyds sekretaris-generaal van die Statebond, versoek om nie dadelik met radikale grondhervorming te begin nie.

‘Zim stel grondhervor­ming uit.’

Die Lancaster House-ooreenkoms, waar Zimbabwe se onafhanklikheid in Londen in 1980 beklink is, se beperking op grondhervorming het in 1990 verstryk.

“Hoofman Anyoku se argument was dat as Zimbabwe die Lancaster House-ooreenkoms (gewillige koper en verkoper) sou wysig, dit die wit bevolking in Suid-Afrika sou afskrik en dit moeiliker vir die ANC sou wees om te onderhandel. Hulle het toe ingestem,” het Mbeki in Durban gesê.

“Dit is hoekom die grondhervormingsproses in Zimbabwe vir minstens ’n dekade uitgestel is. Dit is gedoen om ons ruimte te gee en sukses te behaal in ons onderhandelinge met die apartheidsregering.”

Mbeki was staatshoof toe Mugabe se radikale grondroof in 2000 begin het. Wit boere is van hul grond gejaag en in sommige gevalle is plase en huise afgebrand.

Meyer het in reaksie aan Rapport gesê: “Dis seker nie onmoontlik nie, maar ek dink ’n mens moet kyk wanneer die grondgrypery in Zimbabwe eers rêrig gebeur het. Ek dink dit was nadat Mugabe hom in 1997-’98 vir die Britte gewip het oor Tony Blair nie wou saamwerk nie. Dus, lank ná ons oorgang.”

Dave Steward, oudpres. FW de Klerk se woordvoerder, sê ook die destydse regering was onbewus van die versoek aan Mugabe.

“Ek het egter geen rede om te glo dat mnr. Mbeki se stelling onwaar is nie,” sê Steward.

Twee ander opmerkings van Mbeki het onder skoot gekom.

Hy het gesê hy het nog nooit ’n Zimbabwiër ontmoet wat Mugabe uit die kussings gelig wou hê nie. “Diegene wat met ons gepraat het . . . het nie gesê raak ontslae van Mugabe nie, hulle het gesê ‘help ons om mekaar te vind’,” het Mbeki gesê.

In ’n inbelprogram oor Radio 702 het Zimbabwiërs aan Eusebius McKaiser, die aanbieder, gesê Mbeki herskryf die geskiedenis.

“Wat Mbeki gesê het, maak my siek. Ek het die bietjie respek wat ek vir hom gehad het, verloor,” het een inbeller gesê.

Nog ’n inbeller het gesê: “Mbeki se toespraak het my regtig ontstel. Ek het gedog dat iemand van die ANC en Umkhonto weSizwe die waarheid sou vertel. Mugabe het die ANC verafsku. Dit krap my om dat iemand soos Mbeki in dié punt van die geskiedenis nie kan opstaan en die waarheid vertel nie. Mugabe was ’n monster. Zimbabwe het nooit die revolusie van die ANC gesteun nie.”

Peter Hain, anti-apartheidsvegter en Britse Arbeidersparty-politikus wat in die kabinet van sowel Blair as Gordon Brown gedien het, het ook na Mbeki gekap.

Hy het getwiet hy was van 1999 tot 2001 minister van arbeid in Blair se kabinet en dat Mbeki verkeerd was om te beweer Brittanje wou Zimbabwe destyds binneval om Mugabe te onttroon.

“Dis ’n fantasie,” het Hain getwiet.

Meer oor:  Robert Mugabe  |  Thabo Mbeki  |  Roelf Meyer  |  Zimbabwe  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.