Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Mbeki raak ook betrokke by stryd oor Zindzi se twiets

Drie mense met sogenaamde “ANC-bloubloed” is nou regstreeks by die onmin oor die omstrede twiets van Zindzi Mandela, Suid-Afrika se ambassadeur in Denemarke, betrokke.

Oudpres. Thabo Mbeki Foto: Argief

Mandela, dogter van oudpres. Nelson Mandela, is verlede week deur dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, oor haar twiets berispe. Pandor is ook die kleinkind van die akademikus en ANC-struggleheld ZK Matthews.

Nou het die 77-jarige oudpres. Thabo Mbeki, seun van Govan Mbeki en voormalige ANC-president, ook tot die stryd toegetree en gesê geen ambassadeur verteenwoordig hom- of haarself nie en die twiets wat Zindzi Mandela uitgestuur het, is teenstrydig met dit wat pres. Cyril Ramaphosa sê. Dit kan nie toegelaat word nie, het die oudpresident in die naweek aan die Durbanse Sondagkoerant Sunday Tribune gesê.

Mbeki sê daar moet teen haar opgetree word as daar bevind word haar twiets oor grondhervorming weerspreek die standpunt van Ramaphosa. Hy sê Ramaphosa hou deurentyd vol dat grondhervorming binne die perke van die Grondwet moet plaasvind.

Op sy beurt het die EFF, wat Mandela steun, in ’n verklaring na Mbeki gekap.

Mbuyiseni Ndlozi, woordvoerder van die EFF, sê in ’n verklaring Mbeki het toegegee hy weet nie presies wat Mandela getwiet het nie.

Dit lyk asof Mbeki nie ophou met sy aanvalle op die familie van Winnie Mandela nie.
Julius Malema, EFF-leier

“Tipies van die gereserveerde houding van die oudpresident, het hy hom uitgelaat oor iets waarvan hy geen kennis dra nie,” sê Ndlozi.

Die EFF beskuldig Mbeki daarvan dat grondhervorming klaaglik onder sy presidentskap misluk het.

Julius Malema, EFF-leier, kap op Twitter ook na Mbeki.

“Dit lyk asof Mbeki nie ophou met sy aanvalle op die familie van Winnie Mandela nie.”

Zindzi Mandela in haar jonger dae. Foto: Louanna Hoffmann

Malema het Mbeki daarvan beskuldig dat hy Winnie Mandela se familie altyd op hul plek wil sit.

Die EFF sê dat Mbeki Winnie in 2001 aangeval het. Dit was op ’n byeenkoms in Soweto waar hy haar van hom af weggestoot het toe sy hom probeer omhels het nadat sy laat by ’n saamtrek opgedaag het. Nou fokus hy op haar dogter, sê hulle.

Bronne in die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het die hele sage as “baie sensitief” beskryf.

Mandela, wie se termyn as ambassadeur later vanjaar verstryk nadat sy in Junie 2015 deur oudpres. Jacob Zuma aangestel is, het onder meer geskryf wit Suid-Afrikaners is “gronddiewe” en “apartheidsapologete” wat net soos “ongenooide gaste . . . weier om te loop”.

Sy het bygevoeg dat wit mense ’n fout maak deur vas te klou aan “fantasieë van die goeie inboorling” en dat dit tyd is dat swart Suid-Afrikaners “hul grond” terugvat.

“Whilst I dine and wine here . . . wondering how the world of shivering land thieves is doing,” het sy ook geskryf.

Die verwagting is dat Mandela nie weer ’n pos as ambassadeur sal kry nie.

Meer oor:  Anc  |  Thabo Mbeki  |  Nelson Mandela  |  Zindzi Mandela  |  Julius Malema  |  Denemarke  |  Ambassadeur  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.